ATLANTIS – “Sy het net gister vyftien geword en nou is sy dood as gevolg van júlle gemors,” het familie en vriende van die vermoorde Nikita Bailey van Sherwoodpark gesê.
Nikita is dood nadat sy Saterdag 6 Junie laatmiddag in die kruisvuur van vermoedelik bendelede beland het.
Nog ‘n man is tydens die voorval in die voet gewond. Die 15-jarige tiener, wat op pad huis toe was nadat sy ‘n kerkjeugfunksie bygewoon het, was ‘n leerder aan die Hoërskool Robinvale.

Gemoedere het Sondag behoorlik opgevlam nadat gemeenskapslede na verskeie huise in die gebied opgeruk het.
Peter Stoffberg van #Piemphulle het aan die voorpunt van die optrede gestaan. Hy het voor die huis van ‘n vermeende dwelmbaas in die gebied gestaan en hom uitgedaag om die gemeenskap in die oë te kyk. “Ek is Peter Stoffberg en woon in Proteapark. Jy is ‘n lafaard en hardloop nou weg. Ons weet wat jy doen en ons weet wie jou dwelms versprei. Jy moet jou goed vat en gaan, want jy het onskuldige bloed aan jou hande.”
Volgens Stoffberg moet gemeenskappe begin besef dat dit ‘n oorlog is wat slegs gewen kan word indien almal saamstaan.Hy het ook dwarsklappe na bure van vermeende dwelmbase gemik. “Julle sal moet begin oplet wat jul bure doen,” het hy gesê.
“Om niks te sê nie en te hoop dit sal oorwaai, help nie,” het hy gesê.
Volgens kapt. Lisa Munro, wat die voorval bevestig het, is geen verdagtes al aangekeer nie.
Volgens die raadslid Allister Lightburn is dit nou die tyd vir gemeenskappe om saam te staan. “Atlantis, dit het tyd geraak dat ons daardie aktivisme heraktiveer en sê: ‘Genoeg is genoeg’ asook ‘Jou kind is my kind’.”
Volgens Lightburn sal ‘n plan van aksie later vandag uitgewerk moet word oor hoe die probleem aangedurf gaan word en hoe ‘n einde aan die verlies van onskuldige lewens gemaak kan word.
Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Wes-Kaap het sy meegevoel uitgespreek ná die dood van die 15-jarige meisie.
Die DA doen ’n beroep op die SAPD vir verhoogde sigbare polisiëring en dringende optrede in hotspot-gebiede om gemeenskappe beter te beskerm.





You must be logged in to post a comment.