Murphy Roberts
Atlantis Sekondêr het Saterdag 28 Maart ‘n 5-km-pretloop gehou ter nagedagtenis aan die 14-jarige Dayna-Lee Coetzee, ‘n graad 8-leerder aan die skool. Coetzee was ‘n slagoffer van taxigeweld toe sy op Woensdag 25 Maart voor die skool se hek doodgeskiet is.
Die koeëls was na bewering bedoel vir Eugene Titus (42), algemeen bekend as “Spoed”. Hy het voor die skool op sy passasiers gesit en wag toe onbe- kende mans, wat vermoedelik reeds ‘n geruime tyd voor die skool rondgedrentel het, op hom losgebrand het.
Volgens kapt. Lisa Munro, ‘n polisiewoordvoerder, is Titus verskeie kere geskiet, terwyl Coetzee, wat onder die koeëls probeer wegkom het, verskeie kere in die bors getref is.
Sy het voor ander leerders op die skoolterrein inmekaargesak en gesterf. Volgens ‘n betroubare bron het Titus onlangs ‘n soortgelyke aanval oorleef, waarna hy glo al verskeie kere weer met die dood gedreig is.
Volgens die skoolhoof, Melanie Adonis, is die pretloop die ideale geleentheid om veiligheid by skole te bevorder.
Dit kon ook broodnodige geld insamel om ‘n veiliger omgewing vir leerders te skep, het sy gesê. Die herstel van ‘n gees van eenheid en die welstand van baie – nie net leerders nie, maar die gemeenskap in geheel – ná die trauma wat baie moes deurmaak, is belangrik, het sy bygevoeg. Die dag is behalwe Coetzee se gesin, bygewoon deur verskeie politieke partye, gemeenskapsorganisasies en leiers, wat almal saam gestap het.












