Sy het haar sesjarige verjaarsdag op 17 Junie in die paradys gevier “terwyl ons reeds beplan het hoe sy haar klasmaats op dié dag gaan bederf”, vertel die ma van Lemicah Galant, wat vroeër vanjaar in ‘n motorongeluk dood is.
Volgens die emosionele Mickayla Galant, Lemicah se ma, sukkel die familie steeds om haar lieflingkind se dood te verwerk.
Diego Stevens (33), die bestuurder van die motor wat blykbaar Lemicah se dood veroorsaak het, het die afgelope Woensdag (8 Julie) in die hof verskyn en die saak is tot 14 Augustus vir uitstaande toetsuitslae uitgestel.
WeskusNuus het vertroulik verneem Stevens en sy regsverteenwoordiger wil nou beweer Mickayla was nooit ná die ongeluk op die toneel nie, en sê sy was by die werk.
“Ek het onlangs eers werk gekry en ten spyte daarvan het ek die laaste verskyning bygewoon,” vertel sy woedend en emosioneel. “Dit is die soort optrede wat dit vir my as ma nog moeiliker maak om my kind se dood te verwerk.”
Stevens, wat in Maart borgtog geweier is, het tydens sy borgtogaansoek getuig, maar wou nie aan die hof sy weergawe vertel van die gebeure op die noodlottige oggend nie. Hy het in sy borgtogaansoek gesê hy is ‘n mense-mens, maar hy kon niemand in die oë kyk nie.
Stevens het egter volgehou dat hy nie Galant se dood veroorsaak het nie. “Dit was ‘n ongeluk,” het hy gesê.
Die verdedigingsadvokaat en die staatsaanklaer wou by hom weet of hy enigiets vir die oorledene se familie te sê het, waarop hy “nee” geantwoord het.

Die verdediging het ook ‘n petisie met meer as 200 handtekeninge ingedien, waarin familie en vriende van Stevens vra dat hy op borgtog vrygelaat word. Luidens die petisie is die verdagte “‘n mense-mens”, maar die staat het geantwoord dat hy die teenoorgestelde wys deurdat hy geen berou toon nie.

Volgens sers. Ello Hendricks, die ondersoekbeampte, verkeer die verdagte in lewensgevaar omdat familie en vriende van die oorlede kind gesê het hulle sal die reg in eie hande neem indien Stevens borgtog kry.
Mickayla Galant sê sy het vertroue in die regstelsel nadat die bestuurder wat haar kind na bewering doodgery het, borgtog geweier is.





