Savanah Johannes mik na die Groen-en-Goud in hokkie.

Savannah droom groot


Agter elke jong, opkomende ster lê ‘n reis van groei, geloof, dissipline, deursettingsvermoë en drome. Vir Savanah Johannes van Mamre was dit ook die geval, toe sy op ‘n jong ouderdom die eerste keer met hokkie kennis gemaak het.

Dit wat bloot as pret by Van Riebeeckstrand Primêre Skool begin het, het later op hoërskool ‘n ernstige sportloopbaan geword – ‘n besluit wat haar vandag tot provinsiale vlak gedra het en wat haar tot op die rand nasionale roem kan lei.

Savanah is die dogter van Helrica en wyle Heinrich Johannes, wat in 2015 in ‘n motorongeluk oorlede is.

Sy en haar jonger broer, Benjamin, word met liefde deur hul ma en Myrna Johannes (ouma) grootgemaak en die hegte familieband het ‘n groot rol in hul ontwikkeling vervul.

Vandag, as ‘n graad 10-leerder aan die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl, balanseer Savanah akademie en sport met merkwaardige volwassenheid. Sy is onlangs vir die Boland-o.16A-hokkiespan gekies, wat van 6 tot 13 Julie aan die interprovinsiale toernooi (IPT) in KwaZulu-Natal deelgeneem het. Haar prestasie kan haar moontlik ‘n plek in die Suid-Afrikaanse o.16-span verseker, wat in Augustus na Zimbabwe toer.

Haar sportloopbaan het in 2017 op laerskool begin, waar sy reeds in graad 1 haar liefde vir hokkie ontdek het. Buiten hokkie het sy ook in netbal en atletiek uitgeblink, maar met haar toetrede tot hoërskool het sy besluit om haar volle aandag aan hokkie te wy – ‘n besluit wat haar tot provinsiale vlak geneem het.

Hoewel sy hokkie aan die begin net as pret gesien het, het die hokkiegogga behoorlik gebyt en vandag id dit ‘n groot deel van haar lewe

Buiten sport blink Savanah ook akademies uit en is bekend vir haar rustige ­geaardheid, dissipline en geloof, wat haar help om nederig en gefokus te bly.

“My talent is ‘n gawe van God en ek probeer om net my beste te lewer,” het Savanah aan WeskusNuus gesê.

Prestasies en toekomsdrome

Haar persoonlike refleksies toon die diepte van haar dryfkrag. “My mikpunt om die SA o.16-hokkiespan te haal, sal net deur my beskermer bevestig word”.

“Glo in jouself, want as jy in jouself glo, kan jy groter hoogtes bereik met God wat jou sal bystaan.”

Savanah se reis gaan nie net oor medaljes en wedstryde nie – dit gaan oor geloof, familie en die oortuiging dat selfvertroue en harde werk deure vir jou oopmaak. Sy droom daarvan om ná skool­bemarking en sportwetenskap te studeer en jonger spelers te mentor en eendag ‘n entrepreneur te word – soos haar oorlede pa.

‘n Bron van trots vir Mamre

Savanah balanseer haar sportverpligtinge en akademiese verantwoordelikhede uitstekend en haar positiewe houding en vermoë om met almal oor die weg te kom, maak haar geliefd onder maats, onderwysers en afrigters.

Mamre kan met reg trots wees op hierdie besondere jong sportmeisie wat nie net op die hokkieveld presteer nie, maar ook as mens ‘n voorbeeld stel van deursettingsvermoë, nederigheid, geloof en toewyding. Haar vasberadenheid en karakter laat min twyfel dat sy verder in haar sportloopbaan kan vorder en haar droom binnekort sal bewaarheid om Suid-Afrikaanse kleure in haar ouderdomsgroep te verwerf.

Wat aanvanklik bloot as pret by ­Van­ Riebeeckstrand Primêre Skool begin het, het intussen tot ‘n ernstige sportloopbaan ontwikkel – ‘n besluit wat Savanah vandag tot op provinsiale vlak geneem het.

Ná die Interprovinsiale toernooi, wat gister (Maandag 13 Julie geëindig het, kan haar droom ‘n werklikheid word wanneer die Suid–Afrikaanse o.16-span, wat in Augustus na Zimbabwe toer, aangekondig word. Die Mamre-gemeenskap sal die spanbekendmaking met trots en afwagting volg.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 25 August 2026
    WeskusNuus E-Edition – 25 August 2026

Gift this article