Klein misdade en aanvalle op leerders raak toenemend ‘n bekommernis in Atlantis en omliggende gebiede. Onlangs is nog tieners in die streek aangeval – na bewering deur ander jongmense uit dieselfde gemeenskap.
Chantelle le Roux, ‘n ouer van een van die tieners, sê haar seun en ‘n vriend het op pad skool toe deur ‘n openbare gebied gestap toe hulle deur ‘n groep jongmense aangeval is. Volgens haar is haar seun van agter geruk, op die grond gegooi, sy hemp is geskeur en hy is geslaan.
Die aanvallers het glo ook probeer om die ander leerder se selfoon en fiets te roof.
Sy beskryf die voorval as uiters traumaties en sê die oproep van haar kind met die woorde dat hy op pad skool toe aangerand is, is iets wat geen ouer wil hoor nie.
Sy voeg by dat die situasie baie erger kon gewees het en vra vrae oor wat sou gebeur het as wapens betrokke was.
Volgens haar is dit skrikwekkend dat kinders selfs in groepe op pad skool toe nie meer veilig voel nie. Sy wil graag sien dat die verantwoordelikes aanspreeklik gehou word en meen sterker optrede, sigbare sekuriteit en moontlik kameras in sleutelgebiede kan help. Sy beklemtoon ook dat jong oortreders gehelp en gelei moet word om tussen reg en verkeerd te onderskei.
In ‘n ander voorval, wat vroeër in die streek plaasgevind het, is ‘n leerder ná skool beroof terwyl hy op pad huis toe was. Die voorval het binne minute plaasgevind en het die ouer groot skok en vrees laat ervaar. Sy sê haar kind is ‘n rustige leerder wat nie met sulke situasies bekend is nie en die ervaring was traumaties, veral nadat sy later video-bewyse van die voorval gesien het.
Gemeenskapsveiligheidskoördineerders doen intussen ‘n beroep op ouers, skole en leerders om waaksaam te wees te midde van toenemende voorvalle waar skoolgaande kinders op pad na en van skole geteiken word.
Hulle beklemtoon eenvoudige veiligheidsmaatreëls soos om in groepe te stap, bewus te bly van jou omgewing, waardevolle items uit sig te hou, besige roetes te gebruik en nie afgeleë gebiede alleen te betree nie. In geval van bedreiging word leerders aangeraai om nie weerstand te bied nie, maar eerder hulp te soek.
Ouers word ook gevra om seker te maak dat kinders basiese veiligheidsreëls verstaan en om kommunikasie oor hul beweging na en van skool oop te hou. Die gemeenskap word aangemoedig om waaksaam te wees, verdagte gedrag aan te meld en plaaslike veiligheidsinisiatiewe te ondersteun.
Volgens veiligheidsrolspelers kan groter samewerking tussen gemeenskappe, skole en owerhede help om veiliger omgewings vir leerders te skep.



