Murphy Roberts
Plaaslike inwoners het ‘n reeks skerp vrae en kommerpunte geopper oor die bestuur en prioriteite van die Stad Kaapstad, met spesifieke fokus op veiligheid, infrastruktuur en die aanwending van openbare geld.
Inwoners het behoorlik gal gebraak tydens die bespreking van die begroting van die Stad Kaapstad vir die betrokke boekjaar.
Die gemeenskapslid Beauron Rank het die kollig op die Stad se besteding aan veiligheid en sekuriteit laat skyn. Volgens hom gaan 34 sent van elke rand – altesaam sowat R6,7 miljard – na hierdie sektor, terwyl misdaad steeds toeneem.
Hy meen die Stad plaas te veel klem op wetstoepassing, wat boetes uitreik om inkomste te genereer, eerder as om die onderliggende sosio-ekonomiese uitdagings van inwoners aan te durf – veral in die lig van die toenemende bevolkingsgroei in die metro.
Nog ‘n groot bron van frustrasie is die Stad se tolvrye noodlyne. Inwoners beweer oproepe word gereeld na die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oorgedra word, wat reeds onder druk verkeer. “Waarom word ons aangemoedig om misdaad aan te meld as die Stad nie self reageer nie?” vra Rank. Hy voeg by videobewyse van misdaad is reeds aan hoofinspekteurs oorhandig, maar geen sigbare optrede het gevolg nie.
Die besteding van R190 000 aan ‘n rugbytoernooi sonder gemeenskapsinsette het ook vrae laat ontstaan. Inwoners wil weet hoe die geld aangewend word en wie uiteindelik daarby baat.
Inwoners is ook onseker oor hoe lank vooraf kennisgewings vir begrotingsvergaderings aan die publiek gestuur word.
Rank het ook ernstige kommer oor die toestand van plaaslike sportgeriewe uitgespreek. Volgens hom is die Robinvale-sportterrein vervalle, met skade van miljoene rande, wat glo onder die Stad se toesig plaasgevind het. By die Wesfleur-sportterrein, ondanks die teenwoordigheid van twee veiligheidswagte, gaan vandalisme voort omdat die wagte glo slegs die ingang bewaak, beweer Rank.
Regan Carlse het die aandag gevestig op die swak toestand van infrastruktuur in Witsand. Hy het gevra wanneer herstelwerk aan Chris Hani-straat ná rioollekkasies voltooi gaan word? Die projek het volgens hom reeds vyf jaar gelede begin, maar is steeds nie voltooi nie. Hy wys ook daarop dat geen geld vir infrastruktuur in die 2026-’27-begroting vir dié gebied voorsien is nie.
Die gebrek aan speelparke en kerkgrond in uitbreiding 12 en Kanonkop is nóg ‘n kwelpunt. Inwoners wil weet wanneer die Stad grond vir gemeenskapsontwikkeling gaan identifiseer en beskikbaar stel.
Laastens is kritiek op die beplande besteding aan ‘n 50-jaar-viering uitgespreek, met voorstelle dat die geld eerder vir voedselpakkies gebruik moet word om kwesbare huishoudings te ondersteun. Die beëindiging van die “walking bus”-projek in Atlantis – wat kinders se veiligheid op pad skool toe help verseker het – het ook groot ontevredenheid ontlok.
Inwoners doen ‘n beroep op die Stad Kaapstad om groter aanspreeklikheid te toon, gemeenskappe meer te betrek en hulpbronne beter in te span om die werklike behoeftes van die mense die hoof te bied. Volgens Ashley Poole is die vergaderings net ‘n rookskerm, omdat die Atlantis-gemeenskap se insae al jare lank geïgnoreer word. Volgens Poole word honderde miljoene in gebiede soos Melkbos en Table View bestee, terwyl Atlantis aan die agterspeen moet suig wanneer dit by dienslewering kom.





