Hamlets met die wentjek en die Jack Johnson-erfenistoernooi-kampioenbeker. Foto’s: David Rossouw

Hamlets en Schoonspruit wen Jack Johnson-trofeë

Hamlets met die wentjek en die Jack Johnson-erfenistoernooi-kampioenbeker. Foto’s: David Rossouw

David Rossouw

Jack Johnson se droom om die beste span in Mamre te kry, is uiteindelik bewaarheid toe Hamlets RFC sy buurspan van die dorp Mamre RC in die eerste wedstryd ná 53 jaar geklop het om as die beste span van Mamre gekroon te word.

Die Jack Johnson-erfenis-Paasnaweek-rugbytoernooi het vanjaar weer rugbyliefhebbers van Atlantis, Mamre, Pella en die Swartland op die Mamre-sportterrein saamgebring. Die tweede weergawe van die toernooi het nie net opwindende wedstryde opgelewer nie, maar ook ‘n historiese oomblik toe Hamlets RFC ná 53 jaar die eerste keer teen Mamre RC gewen het en as die beste span in Mamre gekroon is.

Die toernooi het op Saterdag 4 April afgeskop met vier hoërskole en vier klubs wat mekaar die stryd aangesê het.

Saxonsea en HTS Proteus het die eerste wedstryd afgeskop, met Proteus wat vinnig die voortou geneem het. Saxonsea het dapper teruggeveg, maar Proteus se ervaring het hulle gedra om met 22-15 te wen. Schoonspruit, wat die eerste keer deelgeneem het, het Robinvale met ‘n indrukwekkende 49-5 geklop en ‘n sterk boodskap aan Proteus vir die eindstryd gestuur.

In die klubafdeling het Never Despair van Malmesbury hul krag teen Young Eagles van Riverlands gewys. Spairs het die telling met vinnige drieë en ‘n stewige voorsprong tot 36-8 vergroot en hul plek in die eindronde verseker. Die hoogtepunt van die dag was egter die derby tussen Hamlets en Mamre, die eerste ontmoeting in meer as ‘n halfeeu. Mamre het vroeg voorgeloop, maar Hamlets het met vasberadenheid teruggeslaan en met 15-13 gaan rus. Die tweede helfte was ‘n titaniese stryd, maar Hamlets het sy kans benut ná ‘n rooi kaart vir Mamre en vasgeklou vir ‘n drama­tiese 28-25-oorwinning.

Saxonsea verhang die bordjies

Op Paasmaandag het Robinvale en Saxonsea mekaar vir die derde plek aangedurf. Robinvale het sterk begin en rustyd met 17-7 voorgeloop, maar Saxonsea het die bordjies verhang en die wedstryd ná 26 punte in die tweede helfte met 33-17 gewen.

In die hoërskooleindstryd het Schoonspruit Proteus oorheers. Met ‘n rustydtelling van 15-0 en ‘n tweede helfte vol kragtige aanvalle het Schoonspruit ‘n klinkende 53-0-sege behaal en Proteus van die troon gestoot.

Mamre en Young Eagles het mekaar ook die stryd aangesê vir die derde plek in die klubafdeling. Mamre het die eerste helfte beheer en 33-15 voorgeloop. Eagles het teruggeveg en 21 punte aangeteken, maar Mamre het 57-36 gewen en derde geëindig.

Die groot eindstryd tussen Hamlets en Never Despair het die toeskouers op hul voete gehad. Spairs het aanvanklik die lei­ding met 11-5 teen rustyd geneem. Hamlets het egter in die tweede helfte momentum opgebou en Spairs uitoorlê. Hamlets het met taktiese skopwerk en slim besluitneming 28 punte aangeteken en die wedstryd 33-11 gewen. Hiermee het hulle die tweede agtereenvolgende jaar die Jack Johnson-trofee omhoog gehou.

By die bekeroorhandiging het die toer­-

nooi­direkteur Morgan Sambaba die spanne, spelers en ondersteuners vir hul opofferings en deelname geloof. Hy het gesê die Jack Johnson-erfenistoernooi is nie net ‘n sportgebeurtenis nie, maar iets wat rugby in die Weskus en Swartland ontwikkel.

Die stigterslid Jerome Johnson het sy trots uitgespreek oor die aansien wat die toernooi in die gemeenskap opgebou het en gesê die droom van sy seun, Jack Johnson, het nou werklik ‘n nalatenskap geword.

Die toernooi het ook geskiedenis gemaak toe die visepresident Pat Marran van die Boland en die WP-president Kevin Kiewiets by die opening opgedaag het om hul steun te wys en die organiseerders sterkte toe te wens. Hierdie teenwoordigheid het die status van die toernooi verder verhoog en gewys dat gemeenskapsrugby ‘n belangrike rol in die groter rugbystruktuur van die provinsies vervul. Met Hamlets wat die trofee vir ‘n tweede agtereenvolgende jaar omhoog gehou het en die gemeenskap wat in volle getalle opgedaag het, is dit duidelik dat die Jack Johnson-erfenisPaasnaweek-toernooi ‘n vaste plek op die plaaslike sportkalender het.

Uitslae: 4 april

Skole: Saxonsea 15 (7), 22 (15) Proteus; Schoonspruit 49 (13), 5 (5) Robinvale; Never Despair 36 (29); 8 (3) Young Eagles, Hamlets 28 (15); 25(13) Mamre.

Finale uitslae: 6 April

Skole: Die Hoërskool Robinvale 33 (7), 17 (17) die Hoërskool Saxonsea (3de en 4de posisie); Proteus HTS 0 (0), 53 (15) die Hoërskool Schoonspruit (eindstryd).

Klubs: Mamre 57 (33), 36 (15) Young Eagles (3de en 4de posisie); Hamlets 33 (5), 11 (11) Never Despair.

Spesiale toekening

Skole- Speler van die Wedstryd – Aiden Alexander (Shoonspruit SS)

Klub- Speler van die Wedstryd – Jordan Abels(Hamlets)

Schoonspruit met die Jack Johnson-erfenistoernooi-beker vir skole.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 12 May 2026
    WeskusNuus E-Edition – 12 May 2026

Gift this article