Murphy Roberts
Dit is nie iets nuut nie en kom reeds geruime tyd voor, het ‘n leerder van Proteus vertroulik aan WeskusNuus vertel.
Atlantis is Dinsdag teruggeruk na die werklikheid met ‘n kort video wat op sosiale media opgeduik het. Daarin rand ‘n groep leerders van Witsand ‘n leerder op pad skool wreed aan.
Die opname wys duidelik hoe die groep die leerder jaag, skop, trap en slaan.
Volgens ‘n leerder van die skool het dinge reeds verlede jaar begin. Die bom het glo gebars toe die slagoffer begin uithang het saam met ‘n groep leerders met vermoedelik bendebande.
Die groep leerders wou egter hê die slagoffer moes meer saam met hulle uithang, maar hy het geweier.
Volgens kapt. Lisa Munro, woord- voerder vir die Atlantis-polisie, word ‘n klagte van ernstige aanranding ondersoek en verskeie mense is in hegtenis geneem. Volgens ‘n betroubare bron is bendebedrywighede ‘n werklikheid by skole en kan dit nie langer geïgnoreer word nie. Die bron verduidelik dat dit nie bloot boeliegedrag is nie, maar bendegeweld.
Volgens Peter Stoffberg van #piemphulle moet die boompie gebuig word terwyl dit nog klein is. Stoffberg het ook uitgevaar dat meer nasorg- en naskoolse aktiwiteite vir leerders beskikbaar gestel moet word.
Die skool het tydens verlede jaar se matriekuitslae weer eens ‘n styging in resultate behaal, wat bewys dat die opvoeders goeie werk doen, maar die voorval laat ‘n bitter smaak.
Gemeenskapslede het intussen op sosiale media uitgevaar teen die groep en vra dat geregtigheid moet geskied.






