Murphy Roberts

‘n Kommerwekkende 21 tieners is tans in die hof op aanklagte van moord en poging tot moord.

Die strate van Atlantis word weekliks deur sinnelose skietvoorvalle met bloed bevlek en WeskusNuus berig gereeld hieroor. Dit is in baie gevalle opvallend dat minderjariges by dié soort voorvalle betrokke is.

WeskusNuus se ondersoek na jeugoortreders het skokkende feite onthul, soos die 21 tieners wat van moord en poging tot moord aangekla word.

Die jongste verdagte, ‘n 13-jarige, het onlangs in die hof verskyn vir poging tot moord. Die oudste van die 21 is net 17.

Volgens ‘n betroubare bron moet die syfer egter baie hoër wees. Hy sê ouer mans word in baie gevalle gevra om die skuld te dra sodat die jongspan ondervinding kan opdoen.

Volgens Peter Stoffberg, ‘n gemeen-

skapsaktivis, is sy veldtog genaamd “#Piemphulle” op dreef en inligting word gereeld aan hom oor die identiteit van die skieters verskaf. “Iemand sal ernstig daarna moet kyk om tieners se aandag weg van bendebedrywighede te kry.”

Volgens Stoffberg word die jongspan gebruik omdat hulle minderjarig is en in die meeste gevalle in hul ouers se sorg vrygelaat word – net om weer iemand te gaan skiet. “Ouers, familie en vriende moet ook die skuld dra,” sê Stoffberg, “omdat hulle geld gaan leen om skieters se borg te betaal”.

Volgens Esmeralda Jooste van Xtreme Youth is kan verskillende faktore ‘n rol in die voorkoming van hierdie euwel in die gemeenskap speel.

Volgens haar is van die belangrikste faktore vroeë ondersteuning in skole en gemeenskappe; daarmee saam ook toegang tot mentors, berading en die aanleer van lewensvaardighede.

“Positiewe alternatiewe soos sport, kuns en entrepreneurskap moet gebied word en ouers en gemeenskapsleiers moet meer betrokke raak,” glo Jooste.

Volgens Angelo Valentine sr. van Teens Alive moet nie-regerings-

organisasies se programme op alle

regeringsvlakke bygestaan word.

Hy sê organisasies moet alles uit hul eie sak finansier en hulle is nie altyd by magte om vir die gebruik van geriewe te betaal nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article