Murphy Roberts
“Hy is nie raakgeskiet nie…” Só het kapt. Lisa Munro, ‘n polisiewoordvoerder, bevestig nadat ‘n bebloede kleuter midde bendegeweld in die hospitaal beland het.
Die voortgesette bendegeweld in Atlantis het veroorsaak dat ‘n driejarige in die hospitaal beland het met ‘n oop wond aan sy agterkop, maar volgens kapt. Munro van die Atlantis-polisie, is hy nie deur ‘n dwaalkoeël getref nie.
Omstanders het aanvanklik vermoed ‘n dwaalkoeël het die driejarige dalk in die kop getref toe onbekende mans op ‘n groep mense begin skiet het.
Drie mans is in die voorval op Sondag 18 Januarie in Eagles Nest gewond. Dit het tussen 10:00 en 11:00 gebeur.
Volgens Munro het ‘n welwillende man die kind gegryp en na veiligheid gehaas. Hy het egter gestruikel en geval, wat die kind ernstig beseer het.
Dié voorval het weer eens die wenkbroue laat lig, aangesien onskuldiges gereeld in die kruisvuur beland.
Volgens ‘n betroubare bron het die voorval by die bekende Dura-woonstelle, wat die afgelope tyd stil was, gebeur. Inwoners vrees dat dié skietvoorval dalk die vonk in ‘n kruitvat gaan word en ernstig kan ontplof. Die bron het verder gesê die drie 20-jariges wat tydens die voorval gewond is, wou nie verklarings aflê nie – moontlik uit vrees vir wraak.
Die driejarige, wat tans in ‘n Kaapse hospitaal aansterk, is in bestendige toestand. Volgens Munro is dit tans onduidelik hoeveel skote presies afgevuur is, aangesien die gewondes hulself by die hospitaal aangemeld het.
Mense in die gemeenskap het verskeie koeëldoppies opgetel en aan die polisie oorhandig. Geen verdagtes is nog aangekla nie en die polisie ondersoek drie klagtes van poging tot moord.



