Murphy Roberts

“Hou julle bekke!” is omstanders by ‘n noodlottige ongelukstoneel toegesnou toe hulle rowers wou keer om die oorledenes te beroof.

Twee mense is Saterdag 11 Oktober in Atlantis in ‘n trompop-botsing tussen twee voertuie dood.

Volgens kapt. Lisa Munro, ‘n woordvoerder vir die Atlantis-polisie, is die bestuurder van ‘n Polo op slag dood in ‘n botsing teen ‘n bakkie naby die berugte Dura-woonstelle.

‘n Passasier wat in die Polo was, het dae later in die hospitaal aan sy beserings gesterf.

Volgens Munro word klagtes van strafbare manslag ondersoek.

Volgens kringtelevisie-beeldmateriaal is dit duidelik dat die bakkie teen ‘n hoë spoed aan die verkeerde kant van die pad gery het en die botsing kon nie vermy word nie.

Die voorval het families van die oorledenes met baie hartseer agtergelaat nadat video’s van die ongelukstoneel op sosiale media versprei is.

Wat hulle egter met groot bitterheid laat, is dat omstanders – mense wat vermoedelik in die woonstelle woon – die oorledene van verskeie items beroof het.

Op video’s wat op sosiale media versprei is, is dit duidelik dat party omstan-

ders niks gedoen het om die beseerdes te help nie, maar gekies het eerder die oorledene en die ernstig beseerde mense te beroof.

Ander omstanders wat hieroor omgekrap was, kon egter nie veel doen om die barbaarse optrede om eerder te plunder, stop te sit nie.

Van dié omstanders wat op die toneel was, sê op een van die video’s dit is nie ‘n mooi gesig om te aanskou nie, “maar ons is aangesê om ons ‘bekke te hou’ ”, het die getuie vertel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article