Een slagoffer is dood en verskeie ander beseer toe ‘n vermeende dronk bestuurder ‘n stopstraat verontagsaam en van die toneel af gevlug het.

Een in grubotsing dood

Een slagoffer is dood en verskeie ander beseer toe ‘n vermeende dronk bestuurder ‘n stopstraat verontagsaam en van die toneel af gevlug het.

“As jy drink en bestuur, is jy ‘n moordenaar!” het dit verlede week op sosiale media gegons nadat die bestuurder van ‘n wit Volkswagen Polo oor ‘n stopstraat gejaag en na bewering iemand se dood veroorsaak het.

Hy het vermoedelik teen ‘n hoë spoed gejaag en die stoptekens op die hoek van Charl Uys-weg en Sampsonstraat geïgnoreer. Dit het ‘n ernstige botsing veroorsaak, wat een slagoffer dood gelaat het.

Volgens kapt. Lisa Munro, ‘n woordvoerder van die Atlantis-polisie, het die voorval Saterdagaand 4 Oktober omstreeks 21:50 gebeur. Sy het bevestig dat die betrokke Polo-bestuurder van die toneel af gevlug het.

Volgens ‘n ooggetuie het hy self ook die dood vierkantig in die oë gestaar, want hy was besig om die kruising ten tyde van die botsing te nader.

Volgens die getuie was ‘n minibus-taxi vol werkers net besig om die kruising oor te steek toe die Polo teen ‘n vinnige spoed aankom. Dit het die taxi só hard getref dat dit omgeslaan en op die sykant tot stilstand gekom het. Die taxi het ook teen die getuie se stilstaande motor gebots.

Volgens die getuie kon hy op daardie oomblik nie dink wat om te doen nie, want hy het “gevries”.

Volgens Munro is sewe beseerdes, wat in die taxi was, na die hospitaal geneem. Sy het ook bevestig dat ‘n klagte van strafbare manslag ondersoek word en meer klagtes sal dalk later bygevoeg word.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 12 May 2026
    WeskusNuus E-Edition – 12 May 2026

Gift this article