Twee susters van Atlantis, wat hul rugby in Mamre speel, het Boland-vroue- rugby se o.20-span tydens die Suid-Afrikaanse vrouerugbyweek in Gauteng verteenwoordig.
Die twee – Tereske George (19) en haar ouer suster, Sherazaan George (20) – het gewys Atlantis het hope talent en het ook gewys met die regte leiding is alles moontlik.
Vir dié twee susters van die bende- geteisterde Avondale is spoed nog altyd deel van hul lewe.
Hulle vertel trots dat Tereske ‘n uitmuntende atleet en ‘n goeie netbalspeler is en maar eers vanjaar begin rugby speel het.
Haar ouer suster, Sherazaan, het reeds in 2023 begin rugby speel.
Die twee susters, wat nie toelaat dat Atlantis se sosio-ekonomiese en maatskaplike probleme hul onderkry nie, droom nou van groen en goud.
Volgens hul afrigter, Kenny Stadler, is hy veral beïndruk met Tereske se spoed. Sy het dit Saterdag (11 Oktober) weer eens bewys toe sy drie drieë gedruk het in die rukkie dat sy as plaasvervanger op die veld gekom het.
Tereske, wat as linkervleuel vir Mamre speel, is ook onlangs in die senior Boland-vroue-oefengroep opgeneem, vertel die afrigter trots.
Sherazaan, wat vaskopstut speel, kon weens ‘n besering nie aan Saterdag se wedstryd deelneem nie, maar sal hopelik hierdie naweek haar rol kan vervul, sê Stadler.






