Die Atlantis- spesiale ekonomiese sone (Asez) bevorder steeds volhoubare en inklusiewe groei.
Die werk van Asez se vaardigheidsontwikkeling- en ondernemingsontwikkeling-eenhede binne die geïntegreerde ekostelsel-eenheid ontsluit hierdie groei.
Hul fokus is om sterk verbindings tussen die gemeenskap en nywerheid deur middel van vernuwende en geteikende programme te bou.
Hierdie inisiatiewe maak merkwaardige vordering. Dit verseker dat gemeenskappe en nywerheidsrolspelers ingelig, bemagtig en gereed is om in die groenekonomie te floreer.
Die vaardigheidsontwikkeling-eenheid het Asez se gemeenskapsbetrokkenheid deur sy vlagskipprogram, “Ons rol in ‘n volhoubare toekoms – nie môre nie, maar NOU”, gevestig. Hierdie grondslagwerkswinkel stel deelnemers bekend aan Asez se rol in die groenekonomie en wys hoe individue betekenisvolle bydraes by hulle wonings, in die werkplek en in hul gemeenskappe kan lewer.
Die werksessie dek hernubare energie, groentegnologie asook die Regverdige Energie-oorgang en rus kursusgangers toe met praktiese hulpmiddels om in die alledaagse lewe toe te pas.
Die program is deur Asez ontwerp en word ook deur Asez-personeel aangebied. Dit word voortdurend opgedateer om verwant en betekenisvol te bly.
Deelnemers word nie net meer ingelig nie, maar is ook meer gemotiveerd om volhoubaarheidskampioene te word, wat sal help om ‘n veerkragtige en inklusiewe Atlantis-gemeenskap te bou.
Die Ondernemingsontwikkeling-werkstroom het sy Versnellingsprogram bekendgestel en 10 belowende plaaslike KMMO’s op ‘n 12 maande lange reis verwelkom. Die program bied sakeontwikkelingsdienste, geteikende opleiding en persoonlike afrigting en mentorskap met die doel om sakegroei te versnel en sakebedrywighede te versterk. Vroeë resultate toon dat deelnemende ondernemings skerper sakevaardighede, groter selfvertroue en hernude ambisie ontwikkel.
Deur entrepreneurs met ‘n gestruktureerde en volhoubare pakket te ondersteun, bou Asez ‘n sterker plaaslike ekonomie, wat meer toekomsgerig is en geposisioneer is om voordeel uit geleenthede in die groen sektor te trek.
Saam weerspieël die werk van hierdie eenhede Asez se verbintenis om niemand agter te laat nie. Deur individue met kennis toe te rus en ondernemings met groeihulpmiddele te bemagtig, lê Asez die grondslag vir ‘n veerkragtige Atlantis, wat aktief aan die wêreldwye skuif na volhoubaarheid kan deelneem.
Tot volgende keer,
Matt



