David Rossouw
Die jaarlikse Derby tussen Hermes en Saxonsea primêre skole het vanjaar die tweede keer plaasgevind en het Atlantis se sportgees behoorlik laat kook.
Dié weeklange byeenkoms, wat op Maandag 25 Augustus met ‘n energieke openingsgeleentheid by die Saxonsea-gemeenskapsaal begin het, het op Saterdag 30 Augustus sy hoogtepunt met die hoofwedstryde in rugby en netbal bereik. Die derby, wat in 2024 begin is om sportbande tussen die twee skole te versterk, het vanjaar groter en sterker teruggekeer. Onderwysers, leerders en ouers het aktief aan verskeie afdelings van die kompetisie deelgeneem, wat die opbou tot die hoofwedstryde met opwinding gevul het.
In die o.13-rugbyhoofwedstryd het Saxonsea vroeg momentum gekry met ‘n drie deur hul stervoorspeler en kaptein, Jonathan Goliath. Hermes het vinnig geantwoord met ‘n verdoelde drie en die telling na 7-5 geneem. Teen rustyd het Hermes die voortou met 14-5 geneem, maar Saxonsea het in die tweede helfte die bordjies verhang.
Saxonsea het die leiding met drie vinnige drieë geneem en die wedstryd uiteindelik 35-19 gewen. Goliath het drie drieë gedruk en is vir sy uitmuntende spel en leierskap as Speler van die Wedstryd aangewys. Saxonsea het hiermee hul rugbyheerskappy bevestig en skoonskip gemaak in dié afdeling.
Hermes het egter in die netbalafdeling teruggeslaan en Saxonsea in twee afdelings geklop. Die derby, wat jaarliks op Saxonsea se sportterrein aangebied word, toon duidelike groei en word deur beide skole se koördineerders as ‘n belangrike sportplatform beskou. Hermes het ook trots hul eerste geborgde rugby-uitrusting in 40 jaar ontvang, met ondersteuning van Usapho Renovations Project en Zild.
Die borge het hul hoop uitgespreek dat ander ondernemings ook in plaaslike skole sal belê.
Volgens die koördineerders van beide skole gaan die derby nie net oor trofeë nie, maar oor die bou van sportbande en gemeenskapsgees.
Ouers het beaam dat die byeenkoms nie net die kinders verbind nie, maar ook families nader aan mekaar bring.





