L’baan wen op tuisveld

Barry Adonis, ‘n vleuel van Young Hearts, verloor die bal met ‘n oop doellyn voor hom. Dit het die span van die Grafkelder duur te staan gekom. Foto: Murphy Roberts

Murphy Roberts

Langebaan het Saterdag op sy tuisveld die voordeur van die Top-12 in die gesig van Young Hearts in hul gesigte toegeklap.

Young Hearts, wat die wegwedstryd moes wen, het egter met die twee punte wat die span uit die wedstryd gekry het, die agterdeur op ‘n skrefie oopgemaak en het hulle nog ‘n wiskundige kans, maar dan moet die span sy laaste twee wedstryde op die Grafkelder met volle punte wen.

Langebaan, wat die wedstryd 34-29 gewen het, was rustyd reeds 27-3 voor.

Young Hearts se troepe sal dié nagmerrie-wedstryd gou agter hulle moet kry aangesien die eerste twee spanne op die punteleer die Grafkelder besoek.

Young Hearts, wat die eerste helfte met die sterk wind in die gesig gespeel het, het genoeg kanse vir punte geskep. Rotsvaste verdediging van die tuisspan het die besoekers egter tot foute gedwing en ook die wind van agter tot hul voordeel gebruik.

Young Hearts het ten spyte van die sterk wind genoeg kanse geskep, maar bottervingers en verkeerde besluite het tot sy nederlaag bygedra.

Barry Adonis, die regtervleuel van Young Hearts, het die beste kans vir n drie in die eerste helfte deur sy vingers laat glip toe hy die bal met ‘n oop doellyn voor hom verloor het. Young hearts het egter nooit opgegee nie en ten spyte van ‘n 24-punt-agterstand teen rustyd die

tuisspan in die tweede helfte met sy aanvallende spel op die agtervoet gehou.

Die tuisspan, wat die eerste helfte oorheers het, moes toekyk hoe Young Hearts die agterstand laat krimp en met minute oor, byna die wedstryd beklink.

Young Hearts, wat nog twee tuis- wedstryde oor het, sal beide met bonuspunte moet wen en hoop St Helenabaai en Vredenburg val hierdie naweek in hul laaste wedstryde vas. Met enige van die eerste vyf spanne wat nog na die Top-12 kan deurdring is Young Hearts se lot nou in hul eie hande.

Velddrif (eerste), Vredenburg (derde) en St. Helenabaai (vierde) het elk een wedstryd oor terwyl Saldanha (tweede) en Young Hearts (vyfde) elk twee wedstryde oor het en slegs agt punte die eerste van vyfde geskei is.

Mamre het Saterdag op sy tuisveld ook sy kanse vir die Top-12 lewendig gehou toe die groentruie van Kenny Stadler die tweede geplaasde Saron 25-20 geklop het.

Mamre, wat tans in die vierde plek is, moet sy twee wedstryde met bonuspunte wen en hoop Saron kry nie Saterdag ‘n punt teen Never Despair nie.

Abbotsdale staan ook soos ‘n berg voor die groentruie vir ‘n plek in die Top-12.

Atlantis speel Saterdag sy laaste ligawedstryd teen Pniel en die span van Boelie moet wen om ook hul plek in die topses te verseker. Volledige uitslae

Weskus

Vredenburg 20-20 Saldanha, Goedverwacht 22-70 St Helena, Piketberg 14-19

Paternoster, Langebaan 34-29 Young Hearts, Steenberg’s Cove 7-29 Hopefield.

Swartland

Wesbank 48-26 Darling, Voorberg 0-26 Porterville, Abbotsdale 43-5 Goodhopes, Riebeeck United 12-28 Never Despairs, Mamre 25-20 Saron en Villagers Wittewater 20-20 Moorreesburg.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article