‘n Groep passievolle jeugdienslede van Atlantis het onlangs energiek en geïnspireerd
teruggekeer huis toe nadat hulle die #GoBeyond25: “Shape Your Future”-konferensie by die Universiteit van die Wes-Kaap bygewoon het.
Dié vierdaagse nasionale jeugdiensbyeenkoms is van 10 tot 13 Julie aangebied en meer as 1 000 jongmense en vennote van oor Suid-Afrika heen bymekaargebring om 10 jaar van “YearBeyond” te vier.
YearBeyond bemagtig die jeug deur diens, leierskap en persoonlike ontwikkeling.
Vir Atlantis se “YeBoneers” was die ervaring insiggewend. Die jeugdienslede het deur
boeiende en praktiese werksessies in openbare redevoering emosionele intelligensie en die bou van digitale vaardighede waardevolle gereed- skap opgedoen om in hul rolle en persoonlike lewens toe te pas.
Die konferensie het ook kreatiewe randsessies soos visiebordwerk, kralewerk en stil disko’s aangebied, wat ‘n ruimte vir selfuitdrukking en refleksie gebied het.
‘n Hoogtepunt vir baie was die Studie-ekspo, waar YeBoneers met meer as 24 tersiêre instellings kontak kon maak en moontlik nuwe deure vir toekomstige studiegeleent- hede oopgemaak het.
Met hul terugkeer na hul skole en gemeenskappe bring die Atlantis YeBoneers ‘n hernieude gevoel van doelgerigtheid, leierskap en verbintenis saam. Die boodskap wat hulle oordra, is eenvoudig, dog kragtig – jongmense het die potensiaal om verandering te lei wanneer hulle die platform en onder-
steuning kry om te groei.
• Die #GoBeyond25-konferensie was volgens die organiseerders
nie net ‘n viering van die afgelope 10 jaar nie, maar ook ‘n wegspringplek vir wat volgende kom.





