Murphy Roberts
Mamre het Saterdag (26 Julie) hul wegwedstryd teen Never Despairs in Malmesbury weens swak dissipline byna op ‘n skinkbord aan die tuisspan gegee. Mamre, wat die wedstryd 30-27 gewen het, was teen rustyd egter 19-3 gerieflik voor.
Die groentruie van Kenny Stadler het die eerste 40 minute met die wind van agter met gebiedsvoordeel en balbesit baljaar. Hulle het ook eerste bloed geruik met ‘n verdoelde drie.
Mamre het die tuisspan met rotsvaste verdediging onder druk en op die agtervoet gehou. Die tuisspan kon met die wind in die gesig egter by tye nie al die gate toestop nie en Mamre het hul tweede verdoelde drie aangeteken. Daarna het die besoekers nog ‘n onverdoelde drie gedruk terwyl die tuisspan slegs ‘n strafdoel kon behaal.
Mamre het egter met enkele minute in die eerste helfte oor twee geelkaarte kort ná mekaar gekry en moes die laaste drie minute keer vir al wat hy werd was.
Die tweede helfte was egter ‘n perd van ‘n ander kleur en die tuisspan – met die wind van agter – het drie verdoelde driëe behaal. Never Despair het ook vir die eerste keer in die wedstryd sy neus voor gekry terwyl die groentruie met 13 spelers moedeloos moes toekyk hoe die tuisspan die punte opstapel. Met die manne in groen weer op volle sterkte het die wind ook ‘n groot rol gespeel dat hulle in die tuisspan se gebied kon boer.
Stadler se troepe het egter die druk goed gebruik om die broodnodige bonuspunt met ‘n onverdoelde drie te behaal. Die wedstryd is met ‘n strafdoel verseël.
Never Despair het egter in die laaste paar minute die besoekers tot die uiterste beproef, maar Mamre wou nie bes gee nie. Al 15 spelers het hul lyf op die spel geplaas.
Die bonuspuntpunt het Mamre, wat steeds die vierde plek op die Swartland-streek se punteleer beklee, se
Top-12-drome lewendig gehou.
In ander wedstryde:
Young Hearts het Piketberg se
Rhinos in ‘n wegwedstryd met 34-22 geklop om hul uitspeelkanse in die Weskus-streek lewendig te hou.
Young Hearts – tans vyfde op die
Weskus-streek se punteleer – is drie punte agter St. Helenbaai met ‘n wedstryd minder.





