Meer as net ‘n wassery

Charlotte Maree, die eienaar van Cleen Vibes, en Jadia Magerman by die internet gekoppelde wasmasjiene.

Murphy Roberts

“Ek wou nog altyd ander mense se lewe makliker maak – veral senior burgers,” vertel Charlotte Maree, ‘n voormalige wetstoepasser en die eienaar van Cleen Vibes.

Volgens Maree het haar oorlede ma die passie om mense se lewe te vergemaklik, by haar aangehits. Daarom het sy besluit om Cleen Vibes te begin. “Cleen Vibes is nie net ‘n wassery nie,” vertel sy trots, “maar ‘n plek waar kliënte rustig met van die lekkerste koffie en gratis internet kan ontspan.”

Volgens Charlotte het alles in 2022 begin toe sy eers in die klein en by die huis begin het. “My ma se dood het my egter gemotiveer om ‘n diens te lewer wat ander se lewe beter sal maak,” vertel sy. “Ek het in 2024 besluit – dit is nou of nooit.”

Sy het die onderneming amptelik begin en kyk vandag trots terug op wat sy reggekry het.

“Kliënte wat sukkel om hul wasgoed tot daar te kry, laat weet ons en dan gaan haal ons dit gou-gou. Jou wasgoed word veilig opgelaai en later weer afgelaai.”

Cleen Vibes bied ‘n heerlike, warm, huishoudelike atmosfeer en mense wat met hul skootrekenaars wil kom sit en werk terwyl hulle wasgoed skoon kom, kan die gratis internet gebruik.

Die nuwe, uiters moderne toerusting soos die wasmasjiene werk ook met Wifi, wat dit volgens Charlotte soveel geriefliker maak. Sy kan dit selfs van haar huis af aan- en afskakel.

Tydens Weskus Nuus se besoek aan Cleen Vibes het een gereelde kliënt, Danielle Stephens van Saxon Sea, gesê dit is regtig ‘n plesier om haar wasgoed daar te kom doen.

“Die atmosfeer laat my gemaklik voel en dit is regtig een groot plesier,” sê sy.

Die wassery én koffiewinkel is besig om bekend te raak vir die lekker koffies wat hulle bedien. Volgens Patricia Nero van Proteapark het sy besluit om haar vriendin Katriena Jass met koffie op haar verjaarsdag by die wassery te kom bederf.

“Dit was regtig moeilik om ‘n ideale plek te kry, maar iemand het ons na Cleen Vibes verwys. Dit was voorwaar aangenaam,” onthou Nero en Jass. “Die diens is van die beste en die koffie was to die for,” het die twee gespog. “Ons sal gewis weer terugkom.”

Nou wie kan dan met dié twee vriendelike tannies verskil?

Patricia Nero en Katriena Jass van Proteapark het die heerlike atmosfeer met van die beste koffie by Cleen Vibes geniet.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article