Die Hoërskool Voortrekker het 'n opwindende krieketwestryd teen Trio gewen.
In ‘n krieketwedstryd tussen die Hoërskool Voortrekker en Hoërskool Trio, was die Trekkers die oorwinnaars.

BETHLEHEM – Die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem se eerste krieketspan het sy veggees ten toon gestel teen die Hoërskool Trio van Kroonstad in ‘n spanningsvolle wedstryd van die Lejweleputswa-50-boulbeurtliga, met ‘n oorwinning van 14 lopies.

Dit was Voortrekker se derde wedstryd in dié liga vir die seisoen.

Trio het op Saterdag 24 Januarie die loot in Bethlehem gewen en besluit om die Trekkers eerste te laat kolf. Voortrekker se kolwers het gesukkel om vennootskappe te bou en is in die 31ste boulbeurt vir 118 uitgeboul. Paul Naudé het met 27 lopies die kolfwerk aangevoer, terwyl Thato Nthebere met ‘n waardevolle 24 lopies ook weerstand gebied het.

Die Hoërskool Voortrekker het 'n opwindende krieketwestryd teen Trio gewen.
Rodney Turner van die Hoërskool Voortrekker het as bouler in die wedstryd teen Trio uitgestaan. FOTO’S: Verskaf

In sy boulbeurt het Voortrekker egter met tipiese Trekker-veggees en durf teruggeslaan. Die besoekers is voortdurend onder druk geplaas, met paaltjies wat met gereelde tussenposes geval het.

Trio is uiteindelik vir 104 uitgeboul. Rodney Turner van Voortrekker was die uitblinker met die bal en het ‘n uitmuntende vertoning gelewer deur 6 paaltjies vir 29 lopies te neem. Hy is goed ondersteun deur Ruan Heunis, wat met syfers van 2/21 ‘n belangrike rol gespeel het om Trio se kolfbeurt te knou.

Spelers van die Voortrekker-span was Janno Olivier, Rodney Turner, Thato Nthebere, Jordan Buitendag, Andries Rautenbach, Jaydon Strydom, JC Pretorius, Ruan Heunis, Vlag Janse van Rensburg, Paul Naudé, Thys Parsons en DJ Uys.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article