In 1952 het dr. Albert Schweitzer die Nobelprys vir Vrede ontvang. Kort daarna het hy op uitnodiging Chicago besoek.
Tientalle hooggeplaastes was op die stasie toe sy trein binnegekom het. Die stadsvaders het hom welkom geheet, verskeie mense het gekom om hom te sien. Hy het hulle almal hoflik bedank.
Skielik het hy bo-oor die skare se koppe iets gesien: op die oorkantste perron was daar ‘n bejaarde swart vrou besig om met twee swaar tasse van die trein af te sukkel.
Sy het benoud in die rigting van ‘n bus, wat op die punt was om te vertrek, gestaar.
Schweitzer het vinnig tussen die skare deur beweeg, die vrou se tasse opgetel en haar tot in die bus gehelp. Toe hy terug is het hy gesê: “Jammer dat ek u laat wag het, maar as iemand haar nie gaan help het nie, het sy die bus verpas!”
‘n Geharde joernalis het daardie dag blykbaar aan sy kollega gesê: “Dit is die eerste keer in my lewe dat ek ‘n preek op twee bene sien.”
Dit is wat Johannes in 1 Johannes 3:4 bedoel toe hy vir Gaius gesê het: “Niks verskaf my groter vreugde nie as om te hoor dat my kinders in die waarheid lewe.”
Dit is sulke optredes van Christene wat ons hemelse Vader groot vreugde verskaf as Hy sien hoe sy kinders hulle geloof uitleef.
– Müller is leraar aan die NG Moedergemeente Kroonstad.




