KROONSTAD – Op 82-jarige ouderdom is Bobby de Kock, die geliefde meestersatleet van Kroonstad, steeds ‘n gedugte teenstander op die atletiekbaan. Terwyl baie mense op dié ouderdom lankal hul drafskoene opgehang het, maak die ysterman hom gereed vir nog uitdagings en bewys hy dat ouderdom nie sy passie vir die sport kan blus nie.
De Kock, wat op 15 Augustus sy 82ste verjaardag gevier het, neem in die ouderdomsgroep 80 tot 84 jaar deel.

Eerste treë van toewyding 26 jaar gelede geneem
Sy atletiekloopbaan het in 2000 op 54-jarige ouderdom begin, en sedertdien het hy talle goue en silwermedaljes op Suid-Afrikaanse meestersbyeenkomste verower.
De Kock se indrukwekkende prestasies strek oor verskeie baannommers, waaronder die 100 m, 200 m, 400 m, 800 m, 1 500 m, 5 000 m en die 2 000 m-hindernis. Hy het oor die jare sy teenstanders in verskeie nommers die loef afgesteek en met sy spoed, uithouvermoë en deursettingsvermoë talle medaljes verwerf.
LEES OOK: Sukses ‘net genade van bo’
Hy is lid van die Kroonstad-multisportklub en het voor sy aftrede as finansiële beampte by die departement van korrektiewe dienste gewerk. Hy is ook ‘n kankeroorwinnaar wat ondanks gesondheidsuitdagings steeds sy liefde vir sport uitleef.
Selfs tydens die COVID-19-inperking in 2020 het De Kock op 75-jarige ouderdom sy oefenprogram volgehou. Hy het destyds die nuus gehaal toe hy agt atletieknommers op een dag in sy agterplaas voltooi het.
Aan een voet voor die ander is daar geen keer nie
Die afgelope twee jaar het sy gesondheid hom genoop om sy atletiekprogram aan te pas. Hy het die 2 000 m-hindernisnommer laat vaar uit vrees dat hy kan val, weens duisligheid, wanneer hy oor die hekkies spring. Die 100 m, 200 m en 800 m bly egter steeds deel van sy program.
Sy volgende uitdaging wag reeds op Saterdag 10 Oktober, wanneer hy aan die straatmyl in Parys deelneem. Hy beplan om daarna, einde Oktober, aan die Vrystaatse meestersatletiekbyeenkoms in Bloemfontein deel te neem.
Hardloop is egter nie net tot die atletiekbaan beperk nie. De Kock neem steeds elke Saterdag aan parkrun, oor 5 km, deel. Drie weke gelede het hy aan die Kroonstad Country Club parkrun deelgeneem, waar Bruce Fordyce, die stigter van die parkrun-beweging in Suid-Afrika, ook teenwoordig was.
LEES OOK: DK-hamergooi-akademie se twee meestersatlete gooi die jare oorboord
Agter die merkwaardige atleet staan sy vrou, Lulu, sy grootste ondersteuner wat hom getrou aanmoedig. Sy het haar kamera altyd gereed om sy prestasies vas te vang, en so deel sy in die trots van haar man se besonderse sportloopbaan.
Met sy drafskoene steeds aan sy voete en nuwe uitdagings op die horison, bly oom Bobby de Kock ‘n toonbeeld van deursettingsvermoë en ‘n inspirasie vir oud en jonk.





You must be logged in to post a comment.