KROONSTAD – Ná 35 jaar agter die toonbank van die historiese Syd Goldstein-apteek lê die bekende en geliefde apteker Chris de Jongh vandag die tuig neer.
Daarmee kom ’n besonderse hoofstuk in die geskiedenis van een van Kroonstad se oudste ondernemings tot ’n einde, terwyl die nalatenskap van ’n man wat sy beroep as ’n roeping beskou het, sal voortleef.
Die Syd Goldstein-apteek het reeds in die 1940’s sy deure geopen en word as een van die oudste, indien nie die oudste nie, apteke in Kroonstad beskou. De Jongh het die apteek en die gebou in 1991 gekoop en was tot en met sy uittrede op Vrydag 25 September die eienaar daarvan.

Wat sy lang verbintenis met die onderneming besonders maak, is dat die oorspronklike eienaar, oom Syd Goldstein, ná die verkoop steeds saam met De Jongh by die apteek gewerk het. De Jongh het eindelik selfs langer as Goldstein self daar gewerk en het daarmee die apteker en eienaar geword wat die langste aan dié historiese onderneming verbonde was.
Grootste beloning: Mense wat sy lewe verryk het
De Jongh, ’n boorling van Potgietersrus, het sy studie in Potchefstroom voltooi voordat hy en sy vrou, Joanie, ná verblyf in Pretoria, Kaapstad en Germiston hulle in Kroonstad kom vestig het. Dit was hier waar hy oor meer as drie dekades ’n besonderse verhouding met die gemeenskap opgebou het.
Vir De Jongh was die apteek veel meer as net ’n onderneming. Dit was ’n plek waar mense meer as net medisyne gevind het; ook begrip, ondersteuning en ’n helpende hand.
Hy het sy opregte dank teenoor sy Hemelse Vader, sy gesin, sy personeel en sy getroue kliënte uitgespreek, wat deur die jare ’n onmisbare deel van sy loopbaan gevorm het. Hy beskou sy personeel as sy grootste bate en waardeer die ondersteuning van kliënte met wie hy oor die jare ’n pad gestap het.
Volgens De Jongh was die grootste beloning van sy loopbaan nie bloot die sukses van die onderneming nie, maar die mense wat sy lewe verryk het. Die lesse wat hy by sy kliënte geleer het, van diepe dankbaarheid tot die hoogste respek, het vir hom besonderse betekenis. Dit was vir hom ’n voorreg om ’n verskil te kon maak in die lewe van elkeen wat die apteek besoek het.
LEES OOK: Eenvoudige daad maak wel verskil
Hy beskou sy werk as ’n roeping wat hy met dankbaarheid vervul het.
Een spesifieke gebeurtenis uit sy loopbaan illustreer die onbaatsugtige manier waarop hy sy beroep beoefen het. ’n Pastoor wat saam met sy vrou en kinders op reis was, het hom een nag laat gebel toe hulle hulp nodig het. Sonder om te huiwer het De Jongh die apteek oopgesluit en die gesin gehelp; boonop sonder om betaling daarvoor te vra. Die pastoor het daarna vir De Jongh en sy apteek gebid en ’n seën oor hulle uitgespreek. Dié gebaar van geloof en dankbaarheid het ’n besonderse plek in De Jongh se herinneringe ingeneem.
Sy betrokkenheid by Kroonstad het ook verder as die apteek gestrek. Hy het op beheerliggame van laer- en hoërskole in die dorp gedien en daarmee sy deel tot die ontwikkeling van die gemeenskap bygedra.
Nuwe lewenshoofstuk ontvou in die Wes-Kaap
De Jongh en sy vrou het hulle reeds in Durbanville in die Wes-Kaap gevestig, waar hy uitsien om sy aftrede saam met sy geliefdes te geniet. Die egpaar het twee dogters wat albei in Kaapstad woon. Die oudste, Chantelle Smit, is ’n prokureur, terwyl die jongste, Christelle White-Phillips, in haar pa se voetspore gevolg het en as apteker werk.
Die Syd Goldstein-apteek is deur die bekende Arrie Nel-apteekgroep oorgekoop en sake sal soos normaal voortgaan. Hoewel De Jongh sy wit jas nou finaal neerlê, laat hy ’n nalatenskap van diensbaarheid, medemenslikheid en opregte omgee. Deur talle inwoners sal hy altyd onthou word as die apteker wat nie net sy beroep beoefen het nie, maar ook met sy hart vir die gemeenskap geleef het.



