Vrouemaand bied die kans om hulde te bring aan vroue wat dikwels stilweg ‘n verskil maak.
VrystaatKroon gesels dié maand met vroue wie se toewyding hul gemeenskappe op verskillende maniere sterker maak.
Vir Linda Louwrens (47) van Kroonstad lê daardie bydrae nie in groot gebare nie, maar in eenvoudige dade van omgee. Haar jaarlikse skoenboksprojek bring sedert 2021 vreugde en hoop aan inwoners van ouetehuise en kinders wat andersins Kersfees sonder ‘n geskenk sou deurbring.
Wat vyf jaar gelede as ‘n klein uitreik-aksie begin het, het mettertyd tot ‘n gevestigde gemeenskapsprojek ontwikkel. Die doel was van die begin af eenvoudig: om mense wat oor die feestyd nie by hul families kan wees nie, te laat weet dat hulle nie vergete is nie.
Aanvanklik is skoenbokse net aan een groep ontvangers oorhandig, maar die projek het sedertdien uitgebrei. Vandag ontvang inwoners van Huis Edelkroon, Fronekroon en Arboretum asook kinders van die plaaslike kinderhuis elke jaar ‘n spesiaal voorbereide geskenkboks.
Elke skoenboks word met sorg saamgestel.
Bokse vir inwoners van die ouetehuise bevat gewoonlik lekkernye, bad- en stortprodukte asook ‘n boekie en pen, terwyl kinders met speelgoed, skryfbehoeftes, klere en ander bruikbare geskenke bederf word.
“Dit was net op ons harte om uit te reik na mense wat nie oor Kersfees by hul gesinne is nie en dalk geen geskenk ontvang nie,” sê Louwrens.
Die projek word jaarliks deur haar gesin ondersteun, terwyl haar kollegas, Spaski Geldenhuys en Marelize Boeije, ook ‘n rol speel om die skenkings te organiseer en die uitreik-aksie moontlik te maak.
Louwrens sê die gemeenskap speel ‘n onmisbare rol in die sukses van die projek. Mense kan hul eie skoenbokse pak of R400 skenk, waarna die span die bokse namens die borge opmaak. Die insamelingsprojek begin gewoonlik in die eerste week van November en duur tot 15 Desember.
“Vroue is dikwels die mense wat ander eerste raaksien, bemoedig en ondersteun. Dit is daardie klein gebare wat uiteindelik ‘n groot verskil in iemand se lewe maak,” sê sy.
Louwrens woon reeds die afgelope 44 jaar in Kroonstad. Sy dien as DA-raadslid en saam met haar man, Johan, is sy die mede-eienaar van SmartCo-begrafnisversekering.
Die egpaar het twee kinders, Johan (22) en Amurè (19), wat altwee by Norval en Kie werk en hul studie as geoktrooieerde rekenmeesters voortsit.
Sy hoop die skoenboks-
projek sal aanhou groei en nog meer mense sal inspireer om deur eenvoudige dade van omgee, ‘n verskil in ander se lewe mee te bring.
Belangstellendes wat by die projek betrokke wil raak, kan Louwrens by 083 596 5922 bel.





