BETHLEHEM – Die verdwying van Maryna Vermaak (60), wat sedert Sondag 20 September vermis was, het ‘n hartseerwending geneem. Haar lyk is in haar motor naby die Saulspoortdam buite Bethlehem, ook bekend as die Sol Plaatje-dam, gevind.

Vermaak het Maandag nie by die werk opgedaag nie, terwyl haar wit Mazda-motor ook weg was. Sy is as vermis aangemeld, nadat sy Sondag omstreeks 16:30 laas by haar woonstel gesien is.
Haar liggaam is later die week in haar voertuig naby die dam aangetref. Die omstandighede rondom haar dood is nog onduidelik, maar geen misdaad word vermoed nie.
’n Geregtelike doodsondersoek word gedoen. AO Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, het dit bevestig. ’n Lykskouing sal ook gedoen word om die presiese oorsaak van haar dood vas te stel. Haar lyk is intussen na die staatslykshuis geneem.
Die nuus van Vermaak se dood het skokgolwe deur die Bethlehem-gemeenskap gestuur, nadat haar verdwyning kommer op die sosiale media gewek het.
LEES OOK: Liggaam glo dié van vermiste Rika Norris in Helderberg gevind




You must be logged in to post a comment.