KUILSRIVIER: As jy aan hamergooiers dink is die prentjie in jou kop waarskynlik nie dié van ‘n vrou ouer as 70, of wat nog te sê 80, nie.
Maar dink gerus weer wanneer jy Elize Grobbelaar (80) en Aletta du Toit (74) ontmoet. “Hulle ken nie van stilsit nie,” sê Leon Spies, die afrigter van die De Kuilen-Hamergooi-akademie in Kuilsrivier oor sy twee meestersatlete.
Die twee vriendinne, wat mekaar by die Bellville-atletiekklub ontmoet het, slyp sedert 2017 by Spies aan hul gooi-vernuf.
Grobbelaar, wat in Durbanville woon, vertel Spies is eenvoudig die beste hamergooi-afrigter. “Ek het ‘n vorige afrigter gehad. Toe hy oorlede is, het ek na Leon toe gekom voordat ons Spanje toe is om aan die Wêreld-meestersatletiekkampioenskap (in 2018) deel te neem.

Du Toit, van Bellville, het saamgekom en toe met hamergooi en gewiggooi begin. Gewiggooi is ‘n meestersatletiekitem waar die gewig swaarder en aan ‘n korter ketting geheg is as by hamergooi.
Medaljes
Albei het onlangs weer aan die WPA-meestersatetiekbyeenkoms deelgeneem waar Du Toit onder meer ‘n silwermedalje (vroue 70+) vir vyfkamp en Grobbelaar goud (80+) vir hamergooi gewen het.
Die vyfkamp behels vyf gooi-items: hamergooi, gewigstoot, diskus, spiesgooi en gewiggooi (in dié volgorde) met punte wat in elke item volgens ouderdom en prestasie toegeken word om uiteindelik die algehele uitslag te bepaal.
Daar is ook medaljes vir die individuele items en soms kom ander atlete by wat nie al die vyfkamp-items doen nie, verduidelik hulle.
Albei was in hul vyftigs toe hulle met meestersatletiek begin het.
“Ek was eers ‘n resies-stapper en is toe baan toe, want dit is vir my meer opwindend,” sê Grobbelaar. Sy het lank aan padwedlope deelgeneem en een middag tydens ‘n wedloop het die baan-en veldatletiek op die Parow-atletiekbaan haar oog gevang. Net daar het sy besluit om ondersoek in te stel en begin toe met baan-atletiek. “Ek het nie eens my (padwedloop-) medalje gaan haal nie,” onthou sy.
Rekords
Grobbelaar, wat op 57 met meestersatletiek begin het, hou tans 11 WPA-meestersrekords (in die vroue 70 jaar-, 75 jaar- en 80+ jaar-ouderdomsgroepe).
Haar gunsteling-items is hamergooi en gewiggooi.

Albei vroue het in die mediese veld gewerk. Grobbelaar, wat haar tandheelkundestudies ná ‘n jaar moes laat vaar, was eers sekretaresse by ‘n internis in Pretoria voordat sy vir 20 jaar by Louis Leipoldt-hospitaal gewerk het. Ná haar “aftrede” werk sy nog steeds as sekretaresse by Golf Car Worx.
Du Toit het haar opleiding as radiografis by Karl Bremer-hospitaal begin voordat sy na die Tygerberg-hospitaal toe is. “Donkiejare gelede,” skerts sy.
LEES OOK: Meestersnelstapper (75) oortref rekord
Motivering
Gevra oor motivering, sê Du Toit: “Ek kom dikwels by die huis en dan dink ek, ek het nou nie my beste afstand gegooi nie, maar ek was daar. Ek het dit gedoen. Ek is nie goed goed nie, maar ek probeer. Dit is maar wat my motiveer, om maar altyd net aan te gaan en te kyk of ek ‘n beter afstand kan gooi.”
Vir Grobbelaar is dit genoeg motivering dat Spies “die vrymoedigheid gehad het om ons op ons ouderdom sedert 2017 af te rig”.
“Dit het vir my so baie beteken dat ek met graagte elke oefensessie probeer bywoon.”
Sodra dit begin warm word ná die winter se rus, dan is hulle terug by Spies om te oefen. “Ek sien altyd daarna uit om te kom oefen; dit is nooit vir my moeite nie. Ek soek nie verskonings nie.
Soos ons ouer word, raak die afstande maar korter, maar wat, ons probeer maar weer.
Spies sê die twee vroue se toegewydheid en werksetiek dien as inspirasie. Verlede jaar by die DK-akademie se prysuitdeling het hy aan albei ‘n spesiale sertifikaat gegee vir hul deursettingsvermoë en vir die voorbeeld wat hulle vir die jonger atlete stel.
“Nie een van hulle twee kan stilsit nie. Hulle het tot onlangs nog gehardloop en is ook nog besig met karate,” sê hy.
Geen keer
“Ons knieë pla so bietjie op die oomblik,” sê Du Toit. “Nie myne nie,” voeg Grobbelaar haastig by. “Ek is net te bang om alleen te gaan hardloop.” Sy vertel “hier in Covid-tyd” is sy aangeval toe sy om ‘n reservoir in Durbanville gehardloop het. ‘n Man het haar van agter af gegryp en met die opkomslag het sy hom bloedneus gestamp waarna ‘n fietsryer haar kom help het. Dit het daartoe aanleiding gegee dat sy met karate wou begin, vir selfverdediging.
Albei doen nou al ‘n paar jaar lank karate by sensei Rocco Laubscher in Bellville — drie keer per week. “Ons is spesifiek by Kyokushin-kan wat volkontak is,” sê Du Toit, wat onlangs haar bruin gordel gekry het.
Grobbelaar het ‘n jaar gelede ‘n gedeeltelike knievervanging ondergaan. “Hy wou nie meer nie, maar hy’s nou weer reg.” Die been pla wel nadat sy in gewiggooi skeefgetrap het.
Spies en Du Toit weet egter dit sal haar nie terughou nie. “Duracell, dis haar bynaam,” skerts hulle.
“Ja, hulle sê ek het nie end nie, soos die Duracell-hasie,” sê Grobbelaar.
LEES OOK: Kayla doen dit weer met ‘n ses
Sy het al ‘n paar keer SA kleure verwerf en het reeds vir vanjaar gekwalifiseer. Buiten Spanje het sy ook in 2007 in Riccioni in Italië aan die Wêreld-meestersatletiekkampioenskap deelgeneem. Albei kan nou van 27 April tot 3 Mei in Germiston aan die SA meestersatletiekkampioenskap deelneem, maar het nie borge om te help met die duur vliegkaartjies nie.
Grobbelaar glo hulle sal ‘n plan kan maak.
Kontak Spies by 072 176 4235.
LEES OOK: Durbanville woman third in Antartica race



You must be logged in to post a comment.