Dandré (22) en SP Kruger (19) deel ’n besondere passie vir lugvaart. Terwyl Dandré sy droom as vlieënier nastreef, bou SP aan ’n toekoms aan die tegniese kant van die bedryf. Hier is SP (links) en Dandré Kruger. FOTO: Verskaf
Dandré (22) en SP Kruger (19) deel ’n besondere passie vir lugvaart. Terwyl Dandré sy droom as vlieënier nastreef, bou SP aan ’n toekoms aan die tegniese kant van die bedryf. Hier is SP (links) en Dandré Kruger. FOTO: Verskaf

Kroonstad-broers mik op loopbane in lugvaart

Dandré (22) en SP Kruger (19) deel ’n besondere passie vir lugvaart. Terwyl Dandré sy droom as vlieënier nastreef, bou SP aan ’n toekoms aan die tegniese kant van die bedryf. Hier is SP (links) en Dandré Kruger. FOTO: Verskaf
Dandré (22) en SP Kruger (19) deel ’n besondere passie vir lugvaart. Terwyl Dandré sy droom as vlieënier nastreef, bou SP aan ’n toekoms aan die tegniese kant van die bedryf. Hier is SP (links) en Dandré Kruger. FOTO: Verskaf

Dandré (22) en SP Kruger (19) van Kroonstad het hul visier op die lugvaartbedryf gerig. Terwyl Dandré reeds besig is om sy droom van ‘n loopbaan as lugrederyvlieënier te verwesenlik, wil sy jonger broer SP hom aan die tegniese kant van die bedryf bekwaam.

Hoewel hul beroepsrigtings verskil, deel die twee broers ‘n besondere liefde vir vliegtuie. Die een droom daarvan om eendag ‘n passasiersvliegtuig se stuurkajuit te beman, terwyl die ander gefassineer is deur die tegnologie en meganika wat ‘n vliegtuig in die lug hou.

Van sweefvlieg tot kommersiële vlieënier

Dandré se liefde vir vlieg het reeds op 16-jarige ouderdom by die Kroonstadse sweeftuigklub ontstaan. Wat as ‘n belangstelling in sweefvlieg begin het, het mettertyd in ‘n ernstige loopbaandroom ontwikkel.

Hy het sy hoërskoolloopbaan aan die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad, beter bekend as die Rooies, begin. Na die samesmelting van die skole in Kroonstad het hy sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Trio in 2022 voltooi.

Potchefstroom het daarna die volgende belangrike hoofstuk in sy vliegopleiding ingelui. Hy het sy privaatvlieglisensie by Golden Elevator Flight Academy verwerf en sy opleiding daarna voortgesit. Sy volgehoue toewyding het onlangs ‘n belangrike mylpaal bereik toe hy sy kommersiële vlieglisensie voltooi het.

Hy is tans besig met sy Instrument Flight Rating (IFR), waarna hy graag sy opleiding wil voortsit om uiteindelik sy Airline Transport Pilot (ATP)-lisensie te verwerf.

Dandré het reeds meer as 800 vliegure agter sy naam en beskik oor 20 verskillende vliegtuiggraderings.

Werk en sweefvlieg

Hy is reeds sowat drie jaar by Axella in Potchefstroom werksaam, waar hy vliegtuie toets. Die werk bied hom waardevolle praktiese ervaring en stel hom in staat om sy kennis van die lugvaartbedryf voortdurend uit te brei.

Sweefvlieg bly steeds ‘n belangrike deel van sy lewe. Hy is by die sweefvliegbedryf in Potchefstroom betrokke, waar hy met ‘n Cessna-vliegtuig sweeftuie die lug in sleep.

Die betrokkenheid het onlangs ‘n besondere hoogtepunt bereik tydens die nasionale sweefvliegkompetisie wat in Potchefstroom aangebied is. Dandré was een van slegs vyf sleepvlieëniers wat verantwoordelik was om die sweeftuie vir die kompetisie te lanseer.

Sy verbintenis met Kroonstad het egter nie verdwyn nie. Hy is steeds lid van die Kroonstadse vliegklub, waar sy vliegloopbaan begin het en waar hy gereeld nog sweefvlieg beoefen.

Jonger broer kies tegniese rigting

Sy jonger broer, SP, het ‘n ander koers in dieselfde bedryf gekies. Waar Dandré se belangstelling hoofsaaklik in vlieg en die stuurkajuit lê, word SP geboei deur die tegniese stelsels en meganika wat vliegtuie veilig en betroubaar laat funksioneer.

SP het in 2025 aan Hoërskool Trio gematrikuleer en het vanjaar by Axella begin werk. Hy het dus pas sy eerste tree in die lugvaartbedryf gegee, maar weet reeds in watter rigting hy sy loopbaan wil ontwikkel.

Sy besondere belangstelling lê by vliegtuiginstandhouding, veral die instrumente-afdeling. Hy wil graag meer oor die tegniese werking van vliegtuie leer en homself verder bekwaam.

Hy studeer tans na-ure meganiese ingenieurswese aan CTU College, terwyl hy terselfdertyd sy praktiese werkservaring by Axella opdoen. Sy uiteindelike droom is om die nodige kennis en kwalifikasies te verwerf om eendag vliegtuie te kan herstel en professioneel aan die tegniese kant van die lugvaartbedryf te werk.

Hoewel die broers verskillende beroepsrigtings gekies het, is hul passie vir lugvaart die gemene deler.

Dandré se eerste vliegervarings by die Kroonstadse sweeftuigklub het uiteindelik die deur na ‘n moontlike loopbaan as lugrederyvlieënier oopgemaak. SP het op sy beurt pas sy eerste tree in dieselfde bedryf gegee en werk reeds aan die kennis wat hom eendag ‘n plek in die tegniese wêreld van lugvaart kan besorg.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article