Boere langs die Kroonstad-Lindley-pad het die roete self herstel nadat diep slaggate, beskadigde voertuie en gevaarlike toestande die pad al hoe moeiliker begaanbaar gemaak het.
Die Eersterus Boerevereniging het op Dinsdag 13 Oktober die voortou geneem nadat die pad se toestand so versleg het dat padgebruikers toenemend vir hul veiligheid moes vrees.
Met twee vragte teer en twee voertuie wat deur die provinsiale padadministrasie voorsien is, het boere en hul werkers self die herstelwerk aangepak.
Die pad is ‘n belangrike roete vir boere en hul werkers, lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, en besoekers aan Doornkloof en die Serfonteindam. Dit bied ook toegang tot die lughawe buite Kroonstad.

Motoriste moet tussen diep slaggate deur beweeg en soms skielik rem of uitswaai om skade aan hul voertuie te probeer voorkom. Wanneer aankomende verkeer dieselfde moet doen, ontstaan gevaarlike situasies.
Marina Slabbert van die Eersterus Boerevereniging sê die pad se swak toestand het reeds ernstige skade aan voertuie veroorsaak en dat dele daarvan bykans ontoeganklik geword het.
“Ons kon nie langer sit en toekyk hoe die pad wat ons daagliks gebruik, agteruitgaan en net skade aan voertuie aanrig nie. Dit is jammer dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag nie ook betrokke kon raak nie, aangesien hulle ook van die pad gebruik moet maak,” sê Slabbert.
Franco Von Wielligh, ‘n boer van Kroonstad, verwelkom die samewerking tussen die verskillende rolspelers en bedank almal wat bereid was om ‘n bydrae te lewer.
Die DA in Kroonstad beoog om saam met die plaaslike munisipaliteit die pad by Jordania Park-tehuis vir bejaardes tot by die laagwaterbrug te herstel.

Hoewel die provinsiale padadministrasie materiaal en voertuie beskikbaar gestel het, het die boere en hul werkers die fisiese werk gedoen.
Die instandhouding van provinsiale paaie val binne die verantwoordelikheid van die betrokke provinsiale regering. Die boere se optrede beklemtoon die druk op padgebruikers wanneer noodsaaklike infrastruktuur agteruitgaan en herstelwerk nie betyds gedoen word nie.
Vir diegene wat daagliks op die roete aangewese is, is die hoop nou dat die ingryping nie die einde van die herstelpogings sal wees nie, maar dat verdere aandag aan die pad gegee sal word.
LEES OOK: Boere kán nie meer geld in onderhoud van paaie bly inploeg, sê VL




You must be logged in to post a comment.