KROONSTAD – Die Vrystaat staar nou ’n ernstige uitbreking van bek-en-klouseer in die gesig, met 56 bevestigde gevalle wat reeds in nege gebiede van die provinsie aangemeld is.
Volgens Vrystaat Landbou (VL) is die toename van die siekte in verskeie streke rede tot groot kommer. In ’n verklaring wat die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling op Donderdag 23 Oktober uitgereik het, is bevestig dat gevalle voorkom in Kroonstad, Viljoenskroon en Vredefort (waar vier nuwe gevalle aangemeld is), Deneysville, Cornelia en Frankfort, Heilbron, Edenville, Parys, Sasolburg en Odendaalsrus.
Departement gekritiseer oor swak beheermaatreëls
Vrystaat Landbou sê die situasie word vererger deur die departement se versuim om bewegingsbeperkings en kwarantynsones effektief af te dwing.
“Die siekte versprei teen ’n kommerwekkende tempo. Boere word toenemend geïsoleerd gelaat, sonder voldoende veeartsenykundige ondersteuning of duidelike kommunikasie van die owerhede,” sê VL in hul verklaring.
Dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, sê boere wat deur die uitbreking geraak word, ervaar groot frustrasie.
“Daar word van boere verwag om streng kwarantynregulasies en biosekuriteitsbeheermaatreëls toe te pas, maar hulle ontvang nie die nodige leiding, hulpbronne of professionele bystand van die regering nie,” sê hy.
In ’n brief wat Vrystaat Landbou van boere ontvang het, word die situasie as ’n “nasionale landbouramp” beskryf.

Boere worstel met uitdagings en onsekerheid
Hannes Snyman, ’n boer tussen Viljoenskroon en Kroonstad, sê sy plaas is hard getref toe hulle vermoed hul beeste het bek-en-klouseer.
“Ons het dadelik die staatsveearts ingelig en binne ’n week het die inentings gehelp. Die diere is ’n maand later weer ingeënt, maar dit bly ’n groot uitdaging. Ons hele beplanning is deurmekaar en ons kan nie normaal handeldryf nie,” sê Snyman.
Hy voeg by dat duidelike kommunikasie oor watter gebiede vermy moet word, noodsaaklik is.
“As boere saamwerk en presiese inligting ontvang, kan ons help om die siekte beter te beheer,” sê hy.
Cobus van Coller, ’n boer van Viljoenskroon, sê sy plaas was onder kwarantyn nadat ’n nabygeleë plaas besmet is. “Die staatsveeartse en hul spanne doen uitstekende werk op grondvlak, maar daar is eenvoudig te min van hulle. As privaat veeartse toegelaat word om te help, sal dit groot verligting bring,” sê Van Coller.
Ons het dadelik die staatsveearts ingelig en binne ’n week het die inentings gehelp. Die diere is ’n maand later weer ingeënt, maar dit bly ’n groot uitdaging. Ons hele beplanning is deurmekaar en ons kan nie normaal handeldryf nie.
Hy sê daar is vertraging by die staat se laboratorium met bloeduitslae en die vervaardiging van entstof, maar voeg by dat besmette diere binnekort by slagpale in Kroonstad en Vredefort geslag sal kan word – hulle wag net op amptelike bevestiging.
LEES OOK: Bek-en-klouseer versprei in die Vrystaat
’n Bedreiging vir voedselsekerheid en die landbou-ekonomie
Volgens Friedl von Maltitz, vise-president van Vrystaat Landbou, is die uitbreking ’n ernstige bedreiging vir die Vrystaatse landbou en die land se ekonomiese stabiliteit.
“Veeboerdery is die ruggraat van die Vrystaatse landbou en ’n sleutelstabiliseerder van die breër landbou-ekonomie. Voortgesette bek-en-klouseer-infeksies bedreig nie net plaasinkomste nie, maar ook nasionale voedselsekerheid en landelike werksstabiliteit,” sê Von Maltitz.
Hy waarsku dat beide binnelandse en uitvoermarkte in gevaar verkeer, met langtermyn-implikasies vir Suid-Afrika se veewaardeketting en handelsgeloofwaardigheid.
Dringende oproep tot optrede
Vrystaat Landbou doen ’n dringende beroep op die nasionale en provinsiale departemente van landbou om:
Duidelike, wetenskaplik-gebaseerde kommunikasie aan alle boere te verskaf oor protokolle, toetsing en rapportering.
Meer gekwalifiseerde veeartsenykundige spanne na geaffekteerde gebiede te ontplooi met behoorlike beskermende maatreëls.
Plaaslike entstofproduksie by Onderstepoort te herstel vir volhoubare toegang tot entstowwe.
Noodfinansiële verligting aan boere te bied wat groot verliese ly as gevolg van kwarantynbeperkings en besmettings.
Von Maltitz het bevestig dat Vrystaat Landbou alle wettige bewegingsbeperkings en biosekuriteitsprotokolle ingevolge die Wet op Dieresiektes (Wet 35 van 1984) ten volle ondersteun. Hy versoek dat boere die volgende maatreëls streng nakom:
- Beperk die beweging van gesplete hoefdiere.
- Handhaaf streng biosekuriteit en akkurate bewegingsrekords.
- Plaas nuwe vee vir 28 dae in kwarantyn.
- Meld enige verdagte simptome onmiddellik aan die plaaslike staatsveearts.
“Hierdie maatreëls kan slegs effektief wees as dit gepaardgaan met gekoördineerde implementering en werklike ondersteuning vir boere op die grond,” waarsku Von Maltitz.
“Die uitbreking het ’n kritieke punt bereik. Sonder besliste, verenigde ingryping sal die gevolge veel verder strek as veeverliese – dit bedreig lewensonderhoud, voedselproduksie en uiteindelik nasionale stabiliteit.”




You must be logged in to post a comment.