WELKOM – Die opdroog van die departement van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer se geld wat vir die herstel van paaie toebedeel is, dwing boere in die Vrystaat om te betaal om die toeganklikheid te verseker van paaie waarvan hulle afhanklik is.
“Ná een derde van die regering se finansiële jaar is die geld reeds uitgeput, wat net genoeg laat om die departement van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer se opgeblase, top-swaar personeelstruktuur te dek,” sê Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL).
Volgens Wilken het die departement, ondanks herhaalde pleidooie van boere, geen nuwe laervlak-werknemers soos pik-en-graaf-werkers of padskraper-operateurs aangestel nie.
“Dit het boere genoodsaak om afgetrede padskraper-operateurs op hul eie koste aan te stel om kritieke landelike paaie begaanbaar te maak.”
Die stand van die departement se geldsake is bevestig nadat die Clocolan-Marquard-padprojek (R708) tot stilstand geruk het, en ook ná terugslae in die hoogs aangeskrewe slaggat-herstelprojekte wat deur die Wesselsbron- en Senekal-boerevereniging, in vennootskap met die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), Vrystaat, gedryf word.
Jaar ná jaar stort padprojekbegrotings in duie onder die gewig van wanbestuur. – Francois Wilken
In ‘n verklaring het die departement bevestig dat hy nie oor die geld beskik om alle dringende padonderhoudsbehoeftes oor die provinsie heen te hanteer nie.
Terwyl die departement waardering uitgespreek het vir die samewerking tussen belanghebbendes, het Wilken op ‘n vergadering langs die Lesotho-grens op 29 September gewaarsku dat boere nie meer die geldelike las kan dra om staatsinfrastruktuur te herstel wat die breër gemeenskap bedien nie.
“Boere se geldsake is onder geweldige druk. Selfs waar die landbouwaardeketting tot padherstelprojekte bydra, filter die koste eindelik terug na die boer, deur hoër insetkoste. Dit is nie volhoubaar nie,” sê hy.
Die Vrystaat is geïdentifiseer as lanseerterrein vir ‘n InfrastructureSA-projek wat deur die nasionale tesourie finansier word en deur AgBiz en AgriSA gekoördineer word. ‘n Opname om kritieke vervoerroetes van ekonomiese belang te karteer wat dringend herstelwerk benodig, word gedoen.
Die VL het die vordering wat bereik is met provinsiale paaie waarvan die onderhoud na die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) oorgedra is, verwelkom, en bevestig dat hy konstruktief sal voortgaan om op hierdie front betrokke te raak.
Met die reënseisoen wat voorlê – wanneer paaie wat swak onderhou is, vinnig agteruitgaan – het die VL ook belowe om te help om die toewysing van hulpbronne wat binne die departement oorbly, soos dreineringspype, gruis en teer, te koördineer aan gemeenskappe waar boere steeds die herstelwerk self kan uitvoer.
Wilken het egter beklemtoon dat die sistemiese probleme binne die departement nie geïgnoreer kan word nie.
“Jaar ná jaar stort padprojekbegrotings in duie onder die gewig van wanbestuur. Voorkeur aan die ontwikkeling van nuwe kontrakteurs en werkskepping deur die geïntegreerde-openbare-werkeprogram (EPWP) bo geakkrediteerde kontrakteurs met bewese prestasierekords; lang verkrygingsvertragings; en die praktyk van middelmanne wat tenderfondse afsuig, vererger alles die krisis. Hierdie kwessies laat die departement nou toenemend in regsgedinge beland.”
Dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van die VL, het bevestig dat die organisasie steeds wag op ‘n reaksie op die memorandum wat in Februarie aan die LUR oorhandig is, waarin hierdie einste kwessies geopper is.


