Hannïka Heymans, ‘n leerder aan die Hoërskool Witteberg in Bethlehem, het haar hengeltalent op indrukwekkende manier bewys toe sy in die Gauteng-proewe vir kolwerp en afstandwerp teen van die beste jong hengelaars in die provinsie meegeding het.
Die proewe het op 16 Mei plaasgevind.
Kolwerp en afstandwerp is tegniese hengeldissiplines waarin deelnemers met uiterste presisie en krag meeding om aas of gewigte oor bepaalde afstande te werp. In afstandwerp word die fokus geplaas op die verste moontlike gooi, terwyl kolwerp konsentrasie en akkuraatheid vereis om spesifieke teikens raak te gooi.
LEES OOK: Young swimmer takes on Africa
Hannïka het in die afdeling vir jong vroue uitgeblink deur ‘n tweede plek in die 60 m- en 80 m-kolwerp te behaal. Sy het egter nog meer beïndruk in die afstandwerp-afdeling, waar sy met ‘n gooi van 102 m die eerste plek ingeneem het.
Haar uitstekende vertoning het aan haar ‘n plek in Gauteng se kolwerp- en afstandwerp-span vir jong vroue besorg. Die span neem op Saterdag 20 Junie aan die Suid Afrikaanse Varswater Oewerhengel Federasie (SAVOF) se kolwerp- en afstandwerpkampioenskap deel.



