Neels Bornman, kleiteikenskut en optometris van Bloemfontein, het die Suid-Afrikaanse Universal Trench-kleiteikenskietkampioenskap by die Maccauw-kleiteikenklub in Bloemfontein gewen.
Hy het dit reggekry met tellings van 92/100, 96/100 en 97/100.
Bornman is ook die Suid-Afrikaanse “Olympic Trap”-kampioen, nadat hy die Suid-Afrikaanse kampioenskap in September 2025 in Gauteng gewen het, met ‘n telling van 188/200 en 45/50.

Hy skiet al sedert sy kinderdae; sy pa, wyle dr. Neels Bornman, was tot met sy dood in Oktober 2021 sy afrigter en mentor. Bornman sr. het oor ‘n ISSF-klas B-afrigtingskwalifikasie beskik wat hy in Finland verwerf het.
Coenie Potgieter van Kaapstad, wat onlangs die ISSF klas A-afrigtingskwalifikasie in Katar behaal het, is tans Bornman se afrigter. Hy meen hy en Potgieter werk puik as ‘n span saam omdat hulle dieselfde etiese ideale en passie vir dié sportsoort het, asook dieselfde soort werksetiek en denkwyse.
Met dié dat hy onlangs die ISSF-klas C-afrigtingskwalifikasie behaal het, is Bornman vertroud met die tegnieke wat toegepas word.
Sy ondersteuningsnetwerk bestaan onder andere uit sy vrou, Dina, wat ook ‘n optometris is; en sy twee seuns, Neels en Johann, wat leerlinge by Grey-kollege in die stad is. Hy skakel ook met André Kunz van Flying Target op YouTube.
“Ondersteuning is die sleutel tot sukses in enige mededingende sportsoort. Daarsonder is dit bitter
moeilik om jou beste prestasies te handhaaf,” sê Bornman.
Kloppers in Bloemfontein ondersteun op sy beurt die skuts van die Maccauw-kleiteikenklub met voorsiening van ammunisie.
“Omdat dit ‘n kleiner sportsoort is en ons self-onderhoudend is, kan ons in Suid-Afrika nie naastenby soveel oefen as ons internasionale teenstanders nie. ‘n Mens moet vrede maak daarmee. Fisieke fiksheid en sielkundige voorbereiding speel ‘n al hoe groter rol na-mate ‘n atleet beter presteer en internasionaal begin meeding.”
Besoek ctsasa.co.za of Maccauw-kleiteikenklub by maccauwclaytargetclub.co.za.






You must be logged in to post a comment.