Die Hoërskool Witteberg was gasheer vir sy eerste bepalings van die jaarlikse Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks, toe sy spanne dié van die Hoërskool Sentraal van Bloemfontein pak.
Die kragmetings het op Saterdag 14 Maart in Bethlehem plaasgevind.
Hoewel die hokkiewedstryde reeds vroeër die week tydens die Oos-Londen-toernooi, van 12 tot 14 Maart, afgehandel is, het die res van die dag se sportaksie op Witteberg se tuisveld opwinding en strawwe kompetisie meegebring. Toeskouers is getrakteer op ’n reeks wedstryde waarin deursettingsvermoë en ware sportmangees na vore gekom het.
Die hoogtepunt van die dag was die wedstryd tussen die eerste netbalspanne. In ’n vinnige en uiters opwindende stryd het altwee spanne hul beste gelewer. Witteberg het met vasberadenheid gespeel en tot die laaste fluitjie bly veg, maar Sentraal het eindelik die oorhand gekry en met 46 – 40 geseëvier.
“Witteberg sien met groot afwagting uit na die res van die seisoen,” sê Gustav Dreyer, bemarkingshoof van die skool.
Die volgende bepalings vind op Saterdag 21 Maart in Bloemfontein plaas, waar Witteberg teen die Hoërskool Jim Fouché te staan sal kom.
LEES OOK: Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks | Diamantveld en Trio laat skare juig





