LANGEBAAN – ‘n Administratiewe werker by ‘n gesiene vakansieoord is Dinsdag 13 Oktober aangekla van beweerde diefstal van sowat R720 000 en sy het gister in die Hopefield-landdroshof verskyn.
Rose-Marie Taylor (28), ’n werknemer van Club Mykonos in Langebaan, is tans in aanhouding in die Pollsmoor-gevangenis in Tokai in die suide van Kaapstad.
Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder, dui beskikbare inligting daarop dat finansiële state van die maatskappy gedurende September 2026 nagegaan is. Tydens dié proses is daar glo bevind dat geld waarvoor Taylor verantwoordelik was, gesteel is.
Club Mykonos is om kommentaar genader oor die beweerde diefstal. Hulle antwoord sal by die berig gevoeg word, sodra dit ontvang word.
Die saak is uitgestel tot Dinsdag 20 Oktober.





