Noordkaap Bulletin

TWYFELHOEKIE | Manne word in dié opsig van die muise geskei

Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

‘n Mens kan vriendelik wees met alle mense, en dit is goed. ‘n Mens kan charismaties van geaardheid wees en met almal maklik kommunikeer, en dit is goed. ‘n Mens kan van geaardheid baie simpatiek wees en met empatie omgee, en dit is goed.

Maar die beste van alles bly om opreg ander mense met waardigheid te behandel. Om iemand waardig te behandel en waardig te laat voel skei manne van muise.

Daarom is daar in hierdie wêreld soveel boelies, en daarom word mense soms gelaat met so ‘n bitter smaak in die mond, en daarom gebeur dit dikwels dat mense sekere mense eerder net vermy. Dit gaan oor waardigheid.

Daar is nie ‘n mens op hierdie aarde wat jy so maklik, so vinnig en so sterk vermy soos iemand wat jou waardigheid van jou wegneem nie.

Daarom moet ‘n mens mooi dink hoe jy met ‘n ander praat, hoe jy ‘n ander behandel en hoe jy ander mense laat voel.

Soms moet jy jou woorde insluk; soms moet jy kan sê jy was verkeerd. Soms moet jy onthou om ander te behandel soos jyself behandel wil word. Of dit nou langs die sterfbed is, die siekbed, die sportveld, die vleisbraaivuur of in die kantoor – moenie jou waardigheid verloor nie en moenie ander mense sonder waardigheid hanteer nie.

Dit maak seer, dit laat letsels en rig op die duur skade aan.

Die toets is eenvoudig: Jy wil graag met waardigheid behandel word; behandel jy ook ander mense met waardigheid? Wat wen jy deur iets van ‘n ander weg te vat? Wat wen jy deur iemand anders te na te kom? Wat wen jy as jy soos ‘n wenner uit elke stryd tree, maar iemand anders hul waardigheid ontneem? Respekteer ‘n ander mens se waardigheid.

Die lewe kan ‘n beter plek wees as ons leer om mekaar met waardigheid te hanteer.

En ‘n bitter slegte plek as ons dit nie doen nie.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article