Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

TWYFELHOEKIE | Het alles ‘n antwoord vra jy by moedverloor


As ek terugdink aan daardie dag van ons gesprek onthou ek nie veel meer as hoe sy gesig gelyk het en sy skouers gehang het nie.

Dit was asof sy gesig en sy skouers sy hele wese verteenwoordig het. Agterna het ek gedink, soos ek hom daar gesien het, so lyk die definisie van moeg of moedeloos.

Ek het al gehoor mense praat van op moedverloor se vlakte sit. Dit het ek daardie dag gesien.

In sy boerdery het alles wat kon, reeds verkeerd geloop. Daar was eintlik nie veel meer wat verkeerd kon gaan nie.

Toe nog die ding met die vrou wat loop staan en siekte kry, die kinders by die koshuis het moeilikheid gemaak en daar gaan staan die bakkie ook nou nog.

Dit was die groot dinge. Hoe meer hy vertel het, hoe swaarder het die kleiner dinge ook begin word.

Hy vra my eintlik maar net een vraag. Ek moenie vinnig antwoord nie.

Het alles antwoorde? Ek hoor hom dit vra vanwaar hy homself bevind. Vir hom voel dit of niks antwoorde het nie. Vir hom voel dit of die opsies selfs op is.

Ons begin alles waaroor hy gesels in stukkies opbreek. Begin kyk na wat antwoorde kan wees. Hy hou nie van al die antwoorde nie.

Maar hy is reg daarmee. Solank daar net antwoorde is. Hoe meer ons begin sit en dink en praat en oorweeg hoe meer begin ek besef, maar alles het antwoorde.

Nie noodwendig maklike antwoorde nie, nie noodwendig antwoorde wat ‘n mens van hou nie, maar alles het ‘n antwoord.

Soms moet jy net lank genoeg kan wag, of jy moet soms net die antwoord wat kom wil vat. Die antwoord is, nee, as jy wag vir al die antwoorde wat jy wil hê.

Alles in hierdie ou lewe het wel antwoorde, al die antwoorde is nie noodwendig soos jy dit wil hê nie.

Leer luister, na die antwoorde wat wel kom.

LEES OOK: July deel wysheid vir elke maand van die jaar

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article