Om te kan eet is seker een van die wonderlikste voorregte wat elke mens kan hê.
Vra maar enigeen wat om die een of ander gesondheidsrede nie in staat is om te eet nie, of vra vir hulle wat niks het om te eet nie.
In hierdie week van Wêreldhongerdag op 28 Mei gaan my gedagtes onwillekeurig na soveel mense wat sal wil eet maar nie in staat is daartoe nie.
Ek het dit onlangs beleef toe ek iemand besoek wat deur ‘n buis gevoer word en die hoopvolle opmerking maak – as ek net iewers weer self kan eet.
Ek oordink dit ook weer toe ek ‘n hartverskeurende skrywe kry van twee bejaardes wat die dood bo lewe begeer omdat hulle niks meer het om te eet nie.
En weer toe ‘n pa teenoor my sug: Ekself kan honger wees, maar hoe antwoord ek my kinders oor wat ons kan eet.
Só kan die voorbeelde aanhou en name kry, en met konteks ingekleur word.
Dit bring my by die voorreg wat jy het as jy in hierdie dag kan eet.
Nog meer as jy die voorreg het om te kan kies wat jy eet en hoeveel jy eet.
Ons kan so maklik gawes as vanselfsprekend aanvaar. Die voorreg van kos hê, kos kies, kos berei en kos inneem.
Dit alles is eintlik buitengewone gawes wat ons dag ná dag so maklik oorsien.
Daarom het ons die eintlik baie mooi en besonderse gebruik om voor ete seën te vra op ons kos en ná ete dankie te sê.
‘n Gebruik wat ons nie ligtelik mag ag nie en nog minder mag verwaarloos. Gewoon sies vir ouers as julle jul kinders dit nie leer nie.
En wanneer jy die voorreg het om te eet, en lekker te eet en genoeg te eet, dink aan dié wat nie daardie voorreg het nie.
En, soos ons geleer is: eet matig, maar geniet en waardeer.
Waardeer die voorreg van jou daaglikse brood.
En belangrik, moenie kos mors nie.
Lees nog rubrieke en meningstukke hier.




