Hannetjie van Zyl
Hannetjie van Zyl wat op ‘n plaas buite Ottosdal vermoor is. FOTO: Verskaf

Twee verdagtes in hof ná moord op plaas by Ottosdal


POTCHEFSTROOM – Twee verdagte mans het Donderdag 8 Oktober in verband met die moord op Hannetjie van Zyl (55) van ‘n plaas buite Ottosdal, in die hof verskyn.

Martin Boitumelo Mosime (28) en Moleko Sekwaage (29) het in die Bloemhof Streekshof verskyn in verband met Van Zyl se dood en ‘n klag van rooftog.

LEES OOK: Plaasmoord by Ottosdal skok – VF Plus vra ingryping.

Die provinsiale kommissaries van Noordwes, luitenant-generaal Arthur Adams, het die voorval waarin Van Zyl Maandag 5 Oktober gesterf het, veroordeel en die polisie geloof vir die vinnige in hegtenisname van die verdagtes. ‘n Ander verdagte wat glo deur ‘n ooggetuie gesien is, is nog op vrye voet.

Volgens Sersant Kelebogile Morake, woordvoerder van die polisie in Noordwes, is die slagoffer met ‘n onbekende voorwerp gesteek toe sy ‘n plaashek na die Doornpan-plaas wou oopmaak. Die polisie is in kennis gestel van die voorval, en haar man het haar na die Klerksdorp-hospitaal gehaas waar sy aan haar wonde beswyk het.

“Die veiligheid van mense in landelike gebiede bly ‘n prioriteit vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens,” het Adams gesê. “Ons is diep bekommerd oor hierdie tragiese voorval en betuig ons meegevoel aan die van Zyl-familie. Ons sal voortgaan om nou saam te werk met landelike gemeenskappe, boere en ander belanghebbendes om misdaadvoorkomingsmaatreëls te versterk en te verseker dat diegene wat vir geweldsmisdade verantwoordelik is, voor die gereg gebring word.

“Ons doen ook ‘n beroep op lede van landelike gemeenskappe om waaksaam te bly, verdagte aktiwiteite aan die polisie te rapporteer en saam met wetstoepassing te werk om veiligheid in landbougebiede te verbeter,” het Adams gesê.

Morake sê die twee verdagtes bly in aanhouding en sal op Donderdag 15 Oktober om borgtog aansoek doen. Klagte van moord en roof word teen hulle ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article