Hannetjie van Zyl
Hannetjie van Zyl wat op ‘n plaas buite Ottosdal vermoor is. FOTO: Verskaf

Plaasmoord by Ottosdal skok – VF Plus vra ingryping


OTTOSDAL – Die jongste slagoffer van ‘n plaasmoord is Maandag op die plaas Doornpan buite Ottosdal aangeval en het kort daarna aan haar wonde beswyk.

Corné Mulder, VF Plus-leier, het in ‘n nuusverklaring gesê dié wrede moord onderstreep die realiteit en euwel van plaasmoorde wat nou erken moet word.

Sersant Kelebogile Morake, woordvoerder van die polisie in Noordwes, sê die moord op ‘n 55-jarige vrou word ondersoek.

“Die polisie het verneem van ‘n moontlike plaasaanval en het na die plaas gegaan. Daar aangekom, is hulle ingelig dat die slagoffer se man haar na die hospitaal in Klerkdsdorp vervoer het nadat sy ernstig beseer is. Sy het aan haar wonde beswyk.”

Morake sê die slagoffer is met ‘n onbekende voorwerp gesteek toe sy ‘n plaashek wou oopmaak. “Die omstandighede rondom die insident word nog ondersoek.”

Mulder het sy medelye uitgespreek met die naasbestaandes van Hannetjie van Zyl.

Dit is die tweede keer dat daar ‘n aanval op die egpaar se plaas plaasvind. In 2020 is drie verdagtes in hegtenis geneem wat ‘n plaaswerker met ‘n draad aan ‘n pomp vasgebind het en toe by die huis ingegaan het.

Netwerk24 berig toe die diewe in die kamer kom waar Van Zyl was, het hy die pistool gegryp en die vermeende dief en sy makkers het gevlug. Hannetjie se skootrekenaar is in die voorval gesteel en later in ‘n mielieland gevind.

LEES OOK: Verslag wys patroon van marteling tydens plaasaanvalle.

“Hierdie voorval onderstreep nogmaals die grusame realiteit van plaasaanvalle in Suid-Afrika – ’n werklikheid wat in sekere mediakringe, deur meningsvormers en die regering ontken of as ‘gewone’ misdaad afgemaak word.

“Ek versoek president Cyril Ramaphosa daarom om die werklikheid van plaasmoorde nou te erken en te veroordeel, om sy medelye met mev. Van Zyl se naasbestaandes te betuig en om ondubbelsinnig die lied “Kill the Boer, Kill The Farmer” te veroordeel en hom daarteen uitspreek.

“Diegene wat opstaan vir bewusmaking oor plaasmoorde, word toenemend as onpatrioties of ‘ver-regs’ gebrandmerk wanneer hulle die internasionale gemeenskap hieroor inlig. Die VF Plus is van mening dat ontkenning meewerk tot die voortsetting van die geweld.”

Mulder verwys na die vroue wat onlangs aan die Oos-Rand vermoor is, en pres. Ramaphosa wat dit dadelik veroordeel en geëis het dat dit prioriteitsaandag geniet. “Dit is presies hoe enige ernstige misdaadprobleem hanteer behoort te word. Waarom geld dieselfde dringendheid en amptelike veroordeling nie vir die landbougemeenskap en die lewe van boere nie?”

LEES OOK: Amerikaanse ambassadeur kry praktiese kykie na AfriForum se veiligheidsnetwerk.

Volgens AfriForum was daar in 2025 altesame 184 plaasaanvalle en 29 plaasmoorde. Hierdie getalle sou ongetwyfeld veel hoër gewees het indien boere en landelike gemeenskappe nie self hul eie beveiliging georganiseer het nie – ’n taak wat vierkantig op die staat se skouers behoort te rus.

Mulder sê dit is tyd dat alle Suid-Afrikaners wat geregtigheid en menseregte eerbiedig, saamstaan teen hierdie euwel en diegene wat die waarheid probeer verbloem, sien vir wie en wat hulle is.

“Die VF Plus sal nie hieroor stilbly nie. Die VF Plus sal voortgaan om die ongeregtighede in Suid-Afrika voor die wêreld te ontbloot en sal hom nie van koers laat dwing deur diegene wat hom met ’n regse etiket probeer stilmaak nie.”

Morake sê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. “Die polisie ondersoek die omstandighede rondom die insident sodat vasgestel kan word wat gebeur het en om die verdagte of verdagtes te identifiseer. Die ondersoek duur voort.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article