Donovan Marx
Donovan Marx. FOTO: Facebook

VL eis staatsingryping ná brutale plaasaanvalle


 BLOEMFONTEIN – Saam met die stemme van politieke partye, het Vrystaat Landbou (VL) die onlangse plaasmoorde en -aanvalle, veral in Noordwes, ten sterkste veroordeel. Die moord op Hannetjie van Zyl buite Ottosdal en die brutale aanval op Donovan Marx tussen Potchefstroom en Ventersdorp, beklemtoon die ernstige bedreiging waaronder landelike gemeenskappe leef.

ALSO READ: Farmer fighting for life after torture ordeal reignites rural safety debate.

Verder daartoe, onderstreep die insidente in Dewetsdorp in die Vrystaat, waarin ’n opkomende boer en twee plaaswerkers binne ’n ses weke van 1 September tot 15 Oktober vermoor is, dat hierdie tipe geweld die hele landbougemeenskap raak. In die Dewetsdorp-area word die moorde direk aan veediefstal gekoppel.

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, benadruk dat alle boere, plaaswerkers en hul gesinne, en bewoners op plase en kleinhoewes almal die reg het om veilig te woon en te werk.

VL betuig sy innige meegevoel met die naasbestaandes van diegene wat hul lewens verloor het en wens beseerdes krag en herstel toe.

Minister se beroep moet tot optrede lei

Wilken sê dat VL die Minister van Landbou, Willie Aucamp, se beroep om plaasaanvalle as prioriteitsmisdade te hanteer, steun, en dring daarop aan dat plaasmoorde én plaasaanvalle uitdruklik geprioritiseer word. “Die regering moet sy erns bewys deur voldoende hulpbronne, vinnige polisiereaksie, deeglike ondersoeke en suksesvolle vervolging daar te stel.” sê Wilken.

Vrystaat Landbou eis:

  • Toegewyde ondersoekspanne, ondersteun deur misdaadintelligensie en forensiese kundigheid.
  • Behoorlik toegeruste landelike polisiekantore, met voldoende personeel, voertuie en betroubare kommunikasie.
  • Daadwerklike uitvoering van die Nasionale Landelike Beveiliging Strategie (NLBS), in samewerking met landboustrukture en plaaswagte.
  • Daarstel van Landelike Beveiligingseenhede wat uit burgerlikes sal bestaan wat die misdaad voorkomingspogings in landelike gebiede sal versterk.
  • Gereelde terugvoer en ondersteuning aan slagoffers en hul families.

ALSO READ: Farmer fighting for life after torture ordeal reignites rural safety debate.

VL versoek verder dat die minister en polisie binne 30 dae ’n gesamentlike uitvoeringsplan bekend maak, met duidelike verantwoordelikhede, hulpbronne en sperdatums. Wilken meen die strategie kort statutêre rugsteun wat die polisie verplig om uitvoering te gee, anders bly dit ’n diskresionêre keuse deur bevelvoerders met geen verantwoordbaarheid, tydskale en die daarstel van hulpbronne.

Die bloedvergieting op plase en in die landelike gebiede vereis dringende en volgehoue optrede. Boere en plaaswerkers se lewens kan nie langer die prys van gebrekkige uitvoering wees nie.

LEES OOK: Plaasmoord by Ottosdal skok – VF Plus vra ingryping.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article