Man kry 18 jaar tronkstraf vir rooftog op plaas in Okiep wat op moord uitloop

Hofsake

Man kry 18 jaar tronkstraf vir rooftog op plaas in Okiep wat op moord uitloop


SPRINGBOK – Die SAPD in die Namakwa-distrik het die skuldigbevinding en vonnis van Greyton Cloete (27) vir die moord en roof van Edward Coetsee (66), ‘n boer van Kalkfonteinplaas in Okiep, verwelkom.

Kapt. Ivan Magerman, polisiewoordvoerder, het gesê die voorval het op 12 November 2020 omstreeks 02:00 plaasgevind, toe twee verdagtes na bewering die slagoffer se plaashuis binnegegaan en geld geëis het. Toe Coetsee hulle inlig dat hy geen geld het nie, het die verdagtes probeer om sy persoonlike besittings te neem voordat hulle hom wreedaardig aangerand het.

LEES OOK: Noord-Kaap polisie neem bykans 500 verdagtes in hegtenis in ‘n week

Die slagoffer het erge beserings opgedoen. Daar is op hom afgekom en hy is na die hospitaal gebring, waar hy later aan sy beserings beswyk het. Die verdagtes het van die toneel gevlug met sy persoonlike besittings.

In Junie 2023, na afoop van noukeurige ondersoekwerk deur speurder-kaptein Hermie Beukes, is Cloete in hegtenis geneem.

Gedurende die ondersoek het hy sy betrokkenheid by die moord en roof beken.

Verdere ondersoek, ondersteun deur DNS-bewyse, het daarna ‘n tweede verdagte aan die misdaad gekoppel. Albei verdagtes het in aanhouding gebly.

Vonnis opgelê

Die Springbok-streekhof het Cloete op die klag van moord gevonnis tot 20 jaar tronkstraf, waarvan twee jaar vir vyf jaar opgeskort is. Dit is ‘n effektiewe vonnis van 18 jaar direkte tronkstraf. Op die klag van roof is hy tot 10 jaar tronkstraf gevonis. Die hof het gelas dat die vonnisse gelyktydig uitgedien word.

Cloete is ook in terme van Artikel 103 van die Wet op Vuurwapenbeheer onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

Die polisie in die Namakwa-distrik het Beukes geprys vir sy toewyding, deursettingsvermoë en deeglike ondersoekwerk, wat bygedra het tot die skuldigbevinding en die versekering dat die oortreder vir sy dade aanspreeklik gehou word.

Magerman sê die polisie bly daartoe toegewy om ernstige en gewelddadige misdade te ondersoek en die oortreders voor die hof te bring.

“Hierdie skuldigbevinding dien as ‘n herinnering dat selfs wanneer ondersoeke ingewikkeld is en geregtigheid tyd neem, die polisie sal voortgaan om sake na te jaag om aanspreeklikheid en geregtigheid vir slagoffers en hul families te verseker.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article