Die Noord-Kaapse polisie het verlede week altesaam 498 verdagtes tydens Operasie Shanela II vasgetrek.
Terwyl die provinsie die Veiliger Feestydsperiode 2026/2027 betree, het die polisie sy misdaadvoorkomings- en wetstoepassingsoptredes verskerp om die veiligheid van inwoners en besoekers te verseker.
Lees ook: Scores of suspects arrested in Northern Cape operation
Die polisie het in vennootskap met wetstoepassingsvennote weeklikse, multidissiplinêre, intelligensiegedrewe optredes van Maandag 28 September tot Sondag 4 Oktober 2026 reg oor die provinsie uitgevoer, sê AO Molefi Shemane, ‘n provinsiale woordvoerder.

Van die 498 verdagtes is 325 vir verskeie oortredings in hegtenis geneem. Daarbenewens is 103 gesoekte verdagtes tydens opsporingsoptredes deur speurders opgespoor en in hegtenis geneem, 65 verdagtes vir misdrywe wat met geslagsgeweld en vrouemoord verband hou, en vyf mense sonder geldige dokumentasie is ook aangekeer.
Wetstoepassingsbeamptes het 6 117 individue en 2 258 voertuie by voertuigbeheerpunte, padblokkades en in ander strategiese optredes op nasionale en provinsiale paaie voorgekeer en deursoek.

Die optredes het verder deursoeking, voet- en voertuigpatrollies, nakomingsinspeksies en opsporingsoptredes ingesluit, wat gemik was op drankwinkels, tweedehandsegoederehandelaars, plase, myne, formele en informele ondernemings sowel as ander geïdentifiseerde misdaadbrandpunte.
As deel van die voortdurende pogings om die verspreiding van onwettige drankwinkels en die misdadige aktiwiteite daarby te bekamp, is talle ongelisensieerde drankpersele weens nienakoming gesluit. Die polisie het ook op duisende liters alkoholiese drank, dwelms, gevaarlike wapens, selfone en kontant tydens die optredes beslag gelê.

“Die polisie het opnuut bevestig dat hulle ‘n ferm en volgehoue benadering tot misdaadvoorkoming en -bekamping reg oor die provinsie tydens die veilige feestyd en daarna sal handhaaf ,” sê Shemane.
Lees ook: IPID records 5 259 police misconduct cases in 2025/26






You must be logged in to post a comment.