Bydraes tot landbou in die geheel of op bepaalde terreine, waaronder landboukunde, veeartsenykunde, die ekonomie en die organisasie van die bedryf, is tydens TLU SA se jaarlikse kongres erken en vereer.
Die eerbewyse wat tydens die kongresdinee op 2 September by die WNNR Internasionale Konferensiesentrum in Pretoria oorhandig is, het jong landboutalent, uitstaande prestasies en jarelange diens vereer.
Bertus Joubert is as TLU SA se Jongboer van die Jaar vir 2026 aangewys, met Gerhard Heinlein in die tweede plek en Marissa Solms in die derde plek.
Joubert ontvang as wenner die gebruik van ’n wit BYD Shark-inprophibriedbakkie van Hatfield Motor Group vir 12 maande. Sy prys sluit ook ’n tegnologieborgskap van SmarTime en iNspexia vir 36 maande in. Die tegnologieborgskap, wat sagteware en hardeware insluit, is R124 000 werd.
Heinlein ontvang die gebruik van ’n wit JAECOO J7-sportnutsvoertuig van Hatfield Motor Group vir ses maande, asook R30 000 kontant van Santam. Solms ontvang die gebruik van ’n silwer JAECOO J7-sportnutsvoertuig van Hatfield Motor Group vir ses maande en R20 000 kontant van Santam.
Jeugboer, swaarste pampoen vereer
Jurgens Koen is as die Jeugboer van die Jaar vir 2026 aangewys. Hy ontvang ’n kontantprys van R5 000 van Morgan Group, wat ook R50 000 vir die voortbestaan en groei van die kompetisie bewillig het. Design Biologix het ‘n R5 000 kontantprys gegee.
Wykus Lamprecht is as wenner van die Goliat van Gat Pampoenkompetisie vir 2026 vereer met ’n pampoen van 653 kg. Hy ontvang die wisseltrofee vir die swaarste pampoen.

Die Nico Kilian-trofee vir 2026 is aan Wannie Scribante toegeken. Dié eerbewys vereer die landboupersoonlikheid van die jaar in TLU SA se bedieningsgebied. Die trofee gee erkenning aan ’n lid wat voortreflike diens gelewer het, hom vir die bevordering van georganiseerde landbou beywer het en gedurende die afgelope jaar ’n besondere rol in belang van landbou gespeel het.
TLU SA se Uitvoerende Komitee het ook Presidentstoekennings gemaak aan persone wat ’n hoogstaande bydrae tot die bevordering van die landboubedryf gelewer het. Louwrens Mahoney, Carlo Smuts, Ruan Jordaan en Henry Lubbe is vir hul Coast to Coast 4 Farmers-inisiatief vereer. Dr. Danie Odendaal en dr. Faffa Malan het ook elk ’n Presidentstoekenning ontvang.
Tom Moodie is met erelidmaatskap van TLU SA vereer vir sy jarelange diens aan die organisasie en georganiseerde landbou. Erelidmaatskap gee erkenning aan minstens tien jaar se hoogstaande diens aan georganiseerde landbou op nasionale vlak.
Kongrestema sentraal in besprekings
Landelike veiligheid, beskerming van eiendomsreg, ekonomiese volhoubaarheid en die bewaring van grond en water het sentraal tydens TLU SA se jaarlikse kongres gestaan.
Onder die tema “Landbou: Begrond. Beskerm. Bewaar.” het die kongres kundiges en lede byeengebring om die uitdagings vir kommersiële landbou te bespreek en voorstelle oor die organisasie se verdere optrede te oorweeg.
Begrond in geloof, verantwoordelikheid teenoor volgende geslag
Die paneelbespreking oor “Begrond”, met prof. Andries Raath van TLU SA en dr. Danie Langner van die FAK, het gefokus op die organisasie se Christelike begronding, identiteit en landboukultuur, en hoe dié fondament behoue kan bly en versterk kan word.
Die rol van onderwys en opvoeding in die oordrag van dié waardes en landboukultuur was ’n verdere besprekingspunt. Die vraag was ook hoe TLU SA sy begronding in skakeling met regerings- en nieregeringsinstellings kan uitdra.

Beskerm deur veiligheid, eiendomsreg en ekonomiese sekerheid
Onder “Beskerm” het prof. Jannie Rossouw van die Wits Besigheidskool en Ian Cameron van die parlementêre Portefeuljekomitee oor Polisie aan die paneelbespreking deelgeneem. Die gesprek het twee kernverantwoordelikhede van die staat as vertrekpunt gehad: die veiligheid van inwoners en ’n omgewing waarin die privaat sektor met vertroue kan sake doen.
Veiligheid op plase, beleggersvertroue, korrupsie en die gevolge van gebrekkige staatsvermoë het deel van die agenda gevorm. Die fokus was op die optrede wat nodig is om groter stabiliteit vir boere te skep en die ekonomiese voorwaardes vir volhoubare produksie te versterk.
Die veiligheidsvoorstelle het deurlopende druk op die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Nasionale Vervolgingsgesag beoog om tekortkominge aan te spreek, personeel behoorlik toe te rus en op te lei, en aanspreeklikheid te versterk. Die blootlegging en bekamping van korrupsie en rampokkery is as voorkeursaak voorgestel.
Bewaar die grond en water waarop voedselproduksie berus
Waterbeskikbaarheid, watergehalte en aanspreeklikheid het die kern gevorm van die paneelbespreking oor “Bewaar”, met Hanke du Toit van SAWUA en adv. Stefanie Fick van OUTA.
Die gesprek het die bedreiging wat gebrekkige munisipale rioolbestuur, nywerheidsbesoedeling en mynbou vir waterbronne inhou, op die agenda geplaas.
Die moontlikhede om munisipaliteite, verantwoordelike amptenare en die staat tot verantwoording te roep, was ’n verdere fokus.

Ekonomiese vooruitsigte en die jongboervisie
Die kongresprogram het ook ’n boodskap van landbouminister Willie Aucamp en ’n gasrede deur Rob Hersov oor landbou in die huidige ekonomiese klimaat ingesluit.
Aucamp het landbou as ’n roeping beskryf en sy bereidwilligheid beklemtoon om met die sektor saam te werk. “Die ‘ons wil grond hê’-ideologie plant nie mielies nie,” het hy gesê en boere aangemoedig om te bly fokus op dit waarin hulle goed is.
Die sakeman en gasspreker Rob Hersov het landbou as een van Suid-Afrika se groot groeigeleenthede beskryf. Hy het beklemtoon dat betroubare infrastruktuur, doeltreffende waterstelsels en hawens, regsekerheid en marktoegang noodsaaklik is vir winsgewende boerdery en verdere belegging.
In sy presidentsrede het Henry Geldenhuys die verband tussen winsgewende boere en voedselsekerheid beklemtoon. Sy boodskap het onder meer die behoefte aan toepaslike landboufinansiering, billike graanprysvorming, marktoegang en beskerming teen misdaad en biosekuriteitsbedreigings uitgelig.
LEES OOK: Free State still battling foot-and-mouth disease with 191 active cases







You must be logged in to post a comment.