RUSTENBURG – Radikale Redenaars. Leerders van Bergsig Akademie het uitstekende prestasies gelewer tydens die Radikale Redenaars Nasionale Eindronde. Die skool het verskeie topposisies behaal en bewys dat hul jong redenaars oor buitengewone kommunikasie- en leierskapsvaardighede beskik.
Die gr. 9-leerder, Kaitlyn de Beer, is as die nasionale wenner in die tweetalige toespraakkategorie aangewys. Haar prestasie getuig van buitengewone selfvertroue, deeglike voorbereiding en die vermoë om gehore in beide tale te boei.
Nog ‘n indrukwekkende prestasie is deur Keamogetswe Mmethi gr. 12-leerder behaal. Hy het die tweede plek in die Afrikaans EAT-toespraakkategorie verower. Sy sterk argumente en oortuigende aanbieding het hom van die ander deelnemers regoor die land onderskei.
In die Engelse Huistaal-afdeling het Emogene Maila, ‘n gr. 11-leerder, die derde plek behaal. Haar toespraak is geloof vir die gehalte van inhoud, uitstekende taalgebruik en selfversekerde aanbieding.
Volgens Bergsig Akademie is hierdie prestasies die resultaat van harde werk, deursettingsvermoë en ure se voorbereiding. Die leerders het nie net hul skool met trots verteenwoordig nie, maar ook gewys hoe belangrik redenaarsvaardighede in die ontwikkeling van toekomstige leiers is.
Die uitslae bevestig Bergsig Akademie se sterk redenaarskultuur en die hoë standaard wat die skool handhaaf. Met jong mense wat kan inspireer, oortuig en lei, lyk die toekoms besonder blink vir die akademie se redenaarspan.
“Voices that inspire, convince and lead” is ‘n gepaste beskrywing van hierdie talentvolle groep leerders wat hul merk op die nasionale verhoog gemaak het. Bergsig Akademie kan met reg trots wees op hul uitsonderlike prestasies.
https://www.bergsigacademy.net/
Foto verskaf






