RUSTENBURG – Nuwe hokkie-afrigter. Bergsig Akademie het die aanstelling van Neville Segoe aangekondig, wat in 2027 by die skool as nuwe hokkie-afrigter sal aansluit. Hy sal verantwoordelik wees vir die afrigting van die o.14- en o.16-seunshokkiespanne. Neville sal ook ’n toesighoudende rol in die verdere ontwikkeling van die skool se seunshokkieprogram vul.
Dié aanstelling word as ’n waardevolle toevoeging tot Bergsig se sportaanbod beskou. Die skool sien daarna uit om voordeel te trek uit Neville se kennis, ervaring en passie vir die spel. Sy betrokkenheid sal daarop gemik wees om spelers se vaardighede verder te ontwikkel. Hy sal ook die standaard van die seunshokkiespanne versterk.
Bergsig Akademie bly toegewy aan die bevordering van sportuitnemendheid. Hulle skep ook geleenthede waar jong spelers hul volle potensiaal kan bereik. Die skool glo dat sterk leiding en kwaliteit afrigting ’n belangrike rol speel in die vorming van suksesvolle sportlui.
Met die nuwe seisoen op die horison heers daar groot opgewondenheid oor die bydrae wat die nuwe hokkie-afrigter tot die hokkieprogram sal lewer. Leerders, ouers en personeel sien daarna uit om Neville as deel van die Bergsig-familie te verwelkom. Hulle wens hom ‘n suksesvolle en belowende hokkietoekoms by hulle toe.
Bergsig Akademie het hulle reeds gevestig as ’n skool wat sportontwikkeling ernstig opneem. Die aanstelling van Neville beklemtoon dié verbintenis tot groei en volgehoue sukses op die hokkieveld.
https://www.bergsigacademy.net/
Foto verskaf






