BEDFORDVIEW – Statebond-Stoeikampioenskappe. Leeuwenhof Akademie het rede om besonder trots te wees. Stephan van der Westhuizen is gekies om Suid-Afrika by die komende Statebond-stoeikampioenskappe te verteenwoordig. Hierdie prestasie plaas hom onder die land se beste jong stoeiers.
Stephan sal in Desember in die o.17 Grieks-Romeinse afdeling in die 110 kg-gewigsklas meeding. Om vir die nasionale span gekies te word, is ‘n uitsonderlike prestasie. Dit is slegs beskore aan atlete van die hoogste gehalte. Sy insluiting in die Suid-Afrikaanse span getuig van sy uitstekende vermoëns op die stoeimat.
By Leeuwenhof Akademie word Stephan se prestasie as ‘n belangrike mylpaal gevier. Hy dien as inspirasie vir mede-leerders en bewys dat vasberadenheid, fokus en opoffering groot belonings kan oplewer. Die voorreg om die groen-en-goud te dra, word deur baie sportlui as die hoogtepunt van hul loopbaan beskou. Stephan kan met reg trots wees op hierdie besondere eer.
Die Leeuwenhof-gemeenskap sien met groot afwagting uit na sy deelname aan die kampioenskappe. Hulle spreek hul volle ondersteuning aan hom uit. Onderwysers, afrigters, medeleerders en ouers staan bankvas agter hom terwyl hy voorberei om teen van die Statebond se beste jong stoeiers kragte te meet.
Met sy talent, vasberadenheid en veggees dra Stephan nie net die trots van sy skool nie, maar ook dié van Suid-Afrika.
“Leeuwenhof Akademie wens hom alle sterkte toe vir die kompetisie en vertrou dat hy die land en sy skool met onderskeiding sal verteenwoordig.“
Foto verskaf






