Wellington – Andrew Beerwinkel beskou sy aanstelling as hoof van sport by Hugenote Hoërskool in Wellington as ’n besondere voorreg en ’n geleentheid om sy kennis, ervaring en passie vir sport in die ontwikkeling van jongmense terug te ploeg.
As ’n voormalige professionele rugbyspeler glo Beerwinkel dat sport veel meer as net uitslae en prestasies behels. Dit bied jongmense die geleentheid om te groei, hul volle potensiaal te bereik en waardevolle lewenslesse aan te leer.
“Sport was nog altyd ’n baie groot deel van my lewe. As ’n voormalige professionele rugbyspeler wou ek altyd dit wat ek binne sport geleer het, aan die volgende generasie teruggee. Ek sien hierdie geleentheid as ’n nuwe hoofstuk waarin ek nie net sport wil ontwikkel nie, maar ook ’n positiewe verskil in leerders se lewens wil maak,” sê hy.
Beerwinkel is opgewonde oor die pad vorentoe en wil saam met die verskillende rolspelers by die skool ’n gemeenskaplike visie vir sportontwikkeling vestig. Volgens hom moet elke leerder die geleentheid kry om deel te neem, te groei en sy of haar volle potensiaal binne die skool se sportprogram te bereik.
Hoewel goeie resultate en mededingendheid belangrik bly, meen hy dat sukses nie uitsluitlik op die telbord gemeet kan word nie. Sy doelwit is om Hugenote verder te vestig as een van die voorste sportskole in die Wes-Kaap, met duidelike doelwitte en ’n gesamentlike poging om die skool se sportprogramme oor die volgende paar jaar te versterk.
Hy beklemtoon dat Hugenote se trotse sporttradisie gekoester moet word, terwyl daar voortdurend na verbeterings gesoek word. Dit is volgens hom belangrik dat geen sportkode afgeskeep word nie en dat elkeen die nodige aandag, ondersteuning en geleenthede ontvang om te ontwikkel. “Ons moet verstaan waar elke sportkode binne die skool staan en realistiese doelwitte vir elkeen stel. Ons moet saam met afrigters en ander rolspelers werk om daardie doelwitte te bereik,” sê Beerwinkel.
Die identifisering en ontwikkeling van jong sporttalent is ook hoog op sy prioriteitslys. Hy glo dat ’n ondersteunende omgewing geskep moet word waarin leerders aangemoedig word om hulself te ontwikkel, ongeag hul huidige vaardigheidsvlak.
Deur die nodige afrigting, ondersteuning en geleenthede te bied, wil hy verseker dat elke leerder die kans kry om sy of haar vermoëns ten volle te ontwikkel. Die uiteindelike doel is volgens hom om leerders holisties te ontwikkel en hulle voor te berei vir die lewe ná skool. Beerwinkel beklemtoon voorts dat ’n suksesvolle en volhoubare sportprogram nie deur een of twee persone alleen gebou kan word nie. Afrigters, ouers, oudleerders, borge en ander rolspelers het almal ’n belangrike bydrae om te lewer.
“Dit verg ’n spanpoging waar almal saamwerk na ’n gemeenskaplike doel. Dit gaan daaroor om vir Hugenote se leerders die beste moontlike geleenthede te bied en die skool se sportprogram suksesvol en volhoubaar te maak.”
Hy wil graag help verseker dat elke rolspeler sy of haar verantwoordelikhede binne die sportstruktuur verstaan, sodat almal saam kan werk om die beste moontlike resultate te behaal. Beerwinkel is egter nie van plan om Hugenote se bestaande sportstrukture drasties te verander nie. Hy wil eerder voortbou op die skool se sterk sportnalatenskap en terselfdertyd sy eie unieke bydrae tot die verdere ontwikkeling van die sportprogram lewer. Sy boodskap aan die Hugenote-gemeenskap is eenvoudig: almal moet deel wees van die reis.
“ ’n Suksesvolle sportprogram word gebou wanneer almal saamwerk en hul deel bydra. Ek is baie dankbaar vir hierdie geleentheid om deel van Hugenote Hoërskool te wees en sien uit daarna om saam met almal te werk om ons leerders die beste moontlike geleenthede te bied om die beste weergawes van hulself te word, op en van die sportveld af.”






