WORCESTER – Sy was nog baie klein toe het sy saam met haar broer in hul agterplaas krieket gespeel het. Daneli Boshoff het op sesjarige ouderdom saam met die seuns by die skool mini-krieket begin speel.
Min het sy geweet dat haar liefde en passie vir dié sport haar ‘n plek in die o.19 Protea-vrouekrieketspan gaan besorg.
Daneli, Worcester se vroue-krieketster, is ‘n graad 11-leerder aan die HTS Drostdy in Worcester en sê uit Nigerië, waar sy nou toer, aan Standard Breederivier Gazette: “Hierdie mylpaal beteken baie vir my, want dit is ‘n groot geleentheid om myself te bevorder. Dit bring my een stappie nader aan my droom om Suid-Afrika by die 2027-Wêreldbeker te verteenwoordig.”
Volgens Daneli is die o.19-Protea-vrouekrieketspan gekies nadat spelers in hierdie ouderdomsgroep van oor die land heen en wat goed in hul onderskeie provinsiale spanne presteer, geëvalueer is.
Sy sê sedert 2025 is ‘n groter groep spelers saamgestel met die doel om die sterkste moontlike span vir die 2027-Wêreldbekertoernooi te bou.
“Ek het goed presteer vir die Boland-vrouespan en is toe gekies om lid te wees van die groep wat op 18 Maart na Nigerië vertrek het om aan die Nigeria Invitational 2026 Patricia Kambarami Cup deel te neem.”
Benewens Suid-Afrika neem Nigerië, Rwanda, Ghana en Zimbabwe ook aan die toernooi deel.
“Hierdie mylpaal beteken vir my baie, want dit is ‘n groot geleentheid om myself te bevorder en een stappie nader aan my droom – om Suid-Afrika in die 2027-Wêreldbeker te verteenwoordig – te bring.”
Volgens Daneli is kolf- en boulwerk albei haar sterkpunte.
“Ek geniet wat albei dissiplines bied, maar as ek een moet kies, sal dit my kolfwerk wees omdat ek daarvan hou om beurte te bou en ‘n bydrae tot die span se telling te lewer.”
Sy sê boulwerk is ook baie lekker “omdat jy die geleentheid kry om jou foute reg te stel en weer ‘n kans te kry – anders as met kolfwerk”.
Volgens Daneli kan sy met haar boulwerk ook verskillende variasies gebruik om die kolwer te klop.
“Ek speel al van jongs af in talle krieket-toernooie.
“Ek speel al sedert 2022 (graad 7) vir die Boland-vrouespan in Afdeling 2 van binnelandse vrouekrieket.
“Van 2023 af speel ek vir die Boland-o.19-vroue wat aan die o.19- nasionale weke, wat in Desember in die Kaap, Durban en Potchefstroom plaasgevind het, deelgeneem het.”
Volgens Daneli speel sy ook jaarliks in die Boland -T20-toernooi, waar sy verlede jaar vir die Daisies gespeel het en hulle as die wenners geëindig het.

“Verder het ek verlede jaar in Engeland tydens hul somer-krieketseisoen gespeel en aan die Apex-kriekettoernooi deelgeneem.
“Ek was ook die afgelope seisoen die kaptein van die HTS Drostdy-span wat aan die SA20-skolekompetisie in Pretoria deelgeneem het.”
Boshoff sê sy is al by verskeie [krieket] toernooie aangewys as “Woman of the Match”, insluitend die o.19- nasionale weke. Sy is ook al by die Boland-T20 as Speler van die Toernooi aangewys.
“Hierdie erkenning beteken baie vir my, omdat dit wys my harde werk word raakgesien en ek lewer ‘n goeie bydrae tot my span se sukses.”
Daneli meen vrouekrieket is gewis nog nie op dieselfde vlak as manskrieket nie, maar dit is besig om te groei.
Sy sê vroue-krieketspelers kry al hoe meer erkenning en ondersteuning, wat vir die toekoms van die sport baie positief is.
Daneli sê ook om ‘n goeie krieketspeler te wees, verg dissipline, harde werk, deursettingsvermoë en ‘n sterk ingesteldheid. Volgens haar moet jy gereeld oefen, fiks bly en bereid wees om uit jou foute te leer.
“Spanwerk en respek vir ander spelers is baie belangrik. Hoewel krieket ‘n spansport is, vereis dit ook sterk individuele prestasie en jy moet ‘n balans tussen die twee kan vind.
“Dit verg ook baie tyd en aandag aan tegniese aspekte van jou spel.”







You must be logged in to post a comment.