Oppie Tong Af - Merensky-redenaars blink uit op nasionale verhoog
Eddie Mostert landswye wenner in Oppie Tong Af

Oppie Tong Af – Merensky-redenaars blink uit op nasionale verhoog


TZANEEN – Oppie Tong Af. Merensky Akademie se redenaars het hul stemme behoorlik laat hoor tydens die nasionale finale van Oppie Tong Af. Oppie Tong Af is Suid-Afrika se grootste aanlyn redenaarskompetisie. Dit het op 9 en 10 Oktober by Trinityhouse in Centurion plaasgevind. Die Plasies het uitstekende prestasies gelewer. Hulle het bewys dat hulle met selfvertroue, oortuiging en redenaarsvernuf met die land se bestes kan meeding.

Merensky het vanjaar met ’n sterk groep van 28 leerders aan die kompetisie deelgeneem. Ná die eerste rondte het 14 deelnemers na die volgende fase deurgedring. Ses talentvolle redenaars het daarna hul plekke in die gesogte nasionale finaal losgepraat.

Die finaliste het die skool met trots verteenwoordig en hul vermoë om deeglik te argumenteer, krities te dink en met selfvertroue voor ’n gehoor op te tree, getoon. Hul uitslae getuig van die hoë standaard van redenaarsopleiding by die skool.

Die uitblinkers was as volg:
  • Karien Smith (Graad 9), behaal ’n derde plek in haar voorbereide oorredingstoespraak
  • Luzaan Erasmus (Graad 12) eindig vierde.
  • Milan Ferreira (Graad 10) en
  • Eddie Mostert (Graad 11) het albei sesde plekke in hul voorbereide oorredingstoesprake behaal.
Engelse afdeling:
  • Reabetswe Ramahlako (Graad 11) behaal die sewende plek in die land en
  • Bonolo Michelle Makgoba (Graad 9) eindig negende.
Eddie Mostert

Die grootste hoogtepunt van die kompetisie was egter die prestasie van Eddie Mostert, wat besonder goed gevaar het in die uitdagende Goue Tong-afdeling. Deelnemers ontvang in dié afdeling slegs vyf minute voorbereidingstyd voordat hulle ’n onvoorbereide toespraak moet lewer. Eddie het uitstekende denkwerk, spontane redenasie en uitsonderlike aanbiedingsvaardighede getoon en die afdeling gewen om as die beste deelnemer in die land gekroon te word.

Sy nasionale Goue Tong-titel is ’n merkwaardige prestasie en beklemtoon nie net sy eie talent nie, maar ook die gehalte van die redenaarsprogram by Merensky Akademie. Die skoolgemeenskap is met reg trots op al die leerders wat deelgeneem het en die Plasie-naam op nasionale vlak hoog gehou het.

Met sulke indrukwekkende vertonings het Merensky Landbou Akademie se redenaars weereens bewys dat hulle onder die voorste jong sprekers in Suid-Afrika tel.

https://www.plasies.co.za/

Foto’s verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article