PRETORIA – Interskole Redenaarsliga. Hoërskool Waterkloof se redenaars het die afgelope naweek hul stemme met selfvertroue en onderskeiding laat hoor. Hulle het aan die nasionale rondte van die Interskole Redenaarsliga deelgeneem. Dit is aangebied by die Universiteit van die Witwatersrand (WITS) in Johannesburg.
Kolfies is besonder trots op die uitstekende prestasies van sy redenaarspan. Hulle het teen van die land se beste jong sprekers meegeding. Deur deeglike voorbereiding, kritiese denke en sterk kommunikasievaardighede het die Waterkloof-leerders hul merk gemaak.
Afrikaans-voorbereide redenaars
In die Afrikaans-voorbereide redenaars het Reuben Brits (gr. 10) met ‘n uitstekende vertoning die eerste plek verower en as wenner uit die stryd getree. Nog ‘n indrukwekkende prestasie is deur Vian van Breda (gr. 12) gelewer. Hy het ‘n welverdiende derde plek in dieselfde afdeling behaal.

Onvoorbereide Afdelings
Waterkloof se sukses het ook in die onvoorbereide afdelings voortgeduur. Nika Meiring, ’n gr. 12-leerder het haar besondere vermoë om vinnig te dink en oortuigend te argumenteer ten toon gestel. Sy het die tweede plek in Afrikaanse onvoorbereide redenaars behaal. Sy het boonop die beoordelaars verder beïndruk deur as wenner van die Engelse onvoorbereide afdeling aangewys te word. Dit is ‘n uitsonderlike prestasie wat haar veelsydigheid en uitstekende taalvaardighede beklemtoon.

Die uitslae getuig van die hoë standaard van redenaars by Hoërskool Waterkloof, en die harde werk wat deur die deelnemers en hul afrigters ingesit word. Redenaarskompetisies bied leerders die geleentheid om hul openbare spreekvaardighede, selfvertroue en vermoë om krities oor aktuele kwessies te dink, verder te ontwikkel.

Met hierdie indrukwekkende vertonings op nasionale vlak het die Kloofredenaars nie net persoonlike sukses behaal nie, maar ook die trots en tradisie van uitnemendheid by Hoërskool Waterkloof verder versterk.
Klofies wens al die deelnemers geluk met hul puik prestasies en sien uit na nog vele suksesse in die toekoms.
Foto’s verskaf







You must be logged in to post a comment.